Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Geld vlieg in met veiling vir koshuis

’n Unieke duiweveiling op WhatsApp om geld vir die Oranjehof-koshuis van die Hoërskool Hopetown in te samel, het meer as R102 000 opgelewer.

Munnik Botha van die Hopetown-posduifklub vertel dat individue, families of onder­nemings op die deelnemende duiwe, wat van Worcester tot terug by hul hokke sou vlieg, kon bie.

“Jy koop die eer en die duif se vliegtyd, maar die duif bly die oorspronklike eienaar s’n. Die helfte van die totale inkomste was vir die koshuis, 40% vir prysgeld en 10% vir die Hopetown-posduifklub.

“Die WhatsApp-duiweveiling het op 30 September plaasgevind, met die ope spesiale duiwevlug wat vir Saterdag 3 Oktober gereël was.

“Die duiwe is toe eers op Sondag 4 Oktober uit Worcester losgelaat omdat die weer Saterdag te sleg was,” sê Munnik.

Lede van die Hopetown-posduifklub het deelgeneem en ook van die beste duiweboere in Kimberley.

Een van Peter Mills van Kimberley se 2020-kuikens was die wenduif wat die 750 km van Worcester af in die vinnigste tyd gevlieg het. Dié jong duif het ’n spoed van 1 252 m per minuut behaal.

Die tweede duif wat ingekom het, was een van Louis Vermeulen, ook van Kimberley, wat die wenplek met 1 m per minuut gemis het. Frikkie du Plessis, ook van Kimberley, se duif was derde.

Ongeveer 80 deelnemers het vir die duiwevlug op nommerlot 1 tot 26 gebie en alles is op die spesiaal gestigte WhatsApp-groep gedoen.

Foto’s van die veilingsduiwe is ook op die groep geplaas. Munnik sê die bodprys het van R1 400 tot meer as R7 000 gewissel, met R83 332 as ’n totale inkomste hieruit.

Letterlotte, wat skenkings was, is ook opgeveil. Dit het voerbale, ’n selfgemaakte mes en mielies ingesluit. Dié deel van die veiling het ongeveer R19 000 direk vir die koshuis ingebring.

Dié eerste veiling in WhatsApp-formaat was ’n reuse-sukses met ’n totale inkomste van R102 332.

“Mense se harte was oop vir die koshuis en vir duiwesport, en ons het baie positiewe terugvoer gekry,” sê Munnik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.