Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Gesin blink uit as ’n atletiekspan
Die Krugers van Hartswater in Januarie tydens die Afriski High Altitude Street Mile-byeenkoms in die Lesotho-berge. Van links is Liesa, Maricelle, Willie, Marisa, Botha en WJ.Foto: Verskaf
Die Kruger-gesin van Hartswater is al ses kranige atlete. Van links is Botha, Maricelle, Willie, WJ, Liesa en Marisa. Foto: Verskaf

Om sport te doen is vir die Kruger-gesin van ’n plaas in die Hartswater-omgewing hul familietyd.

So het hulle op 20 Junie as gesin van ses saam aan die Noordwes-Universiteit se virtuele wedloop deelgeneem en drie eerste plekke behaal.

“Dit was die tweede geleentheid wat ons as gesin saam gedoen het,” vertel ma Marisa. Die eerste was die Afriski High Altitude Street Mile in Januarie in die Lesotho-berge en volgens Marisa sal hulle dit graag jaarliks wil aanpak.

Sy en haar man, Willie, doen landloop en tweekamp saam met die vier kinders – Maricelle (16), WJ (13), Liesa (10) en Botha (9).

Tydens die virtuele wedloop op 20 Junie het Marisa ’n eerste plek vir vroueveterane (40-49) in die 10 km-wedloop verwerf, Willie ’n eerste plek vir mansveterane (40-49) in die 5 km en Maricelle ’n eerste plek in junior meisies (9-19) in die 10 km. WJ het die 10 km-wedloop voltooi, en Liesa en Botha, die 5 km.

“Ons oefen saam met die kinders en daarom is dit ook vir ons baie lekker om saam met hulle aan sportgeleenthede deel te neem,” sê Marisa.

Hoewel die inperkingregulasies die Krugers se deelname aan verskeie nasionale kampioenskappe van Atletiek Suid-Afrika (ASA) én nasionale tweekampkampioenskappe waarvoor hulle gekwalifiseer het, beïnvloed het, kon hulle met hul daaglikse oefenroetine aanhou omdat hulle op ’n plaas bly.

Dat Marisa en Willie gaande oor fiksheid is, is nie te betwyfel nie. Dit was albei se droom om in Junie 2018, voor hulle 40 word, aan die 70.3 Ysterman-kompetisie deel te neem. Maar Marisa kon nie swem nie en het vanaf September 2017 by Jana Oosthuizen, swemafrigter van die Hartswater-swemklub, swemlesse geneem. Dit het so goed gegaan dat sy en Willie in Februarie 2018 (en ook in 2019) die Midmar-myl geswem het, en in Junie die Ysterman-kompetisie gedoen het.

“Dit is hoe ons met tweekamp begin het,” vertel Marisa. “Toe ek leer swem, het ek die kinders ook vir lesse ingeskryf. Maar tans fokus ons op geleenthede wat ons saam met die kinders kan doen. Met die boerdery is Willie se oefentyd beperk. Hy kon byvoorbeeld net ses weke vir die Ysterman oefen, terwyl die kortste oefenprogram drie maande is.”

Albei het talle kere aan die Kaapstad-fietstoer (voorheen die Argus), deelgeneem.

In 2006 het Marisa die Twee Oseane-wedloop en die Comrades-marathon gedoen, asook ASA se nasionale landloopkampioenskap. Daarna het sy verskeie medaljes by nasionale byeenkomste van ASA in landloop en padwedlope verower.

“Van 2015 tot 2017 het ons net gegym en aan geen sportgeleenthede deelgeneem nie omdat die kinders nog jonger was,” sê sy.

Willie vind ’n tweekampbyeenkoms “gerieflik” om te doen omdat dit vir hom net twee maal ’n week se swemoefening is.

“Hy oefen glad nie vir sy hardloop nie – miskien voor ’n Griekwaland-Wes- of ’n interprovinsiale byeenkoms – maar hardloop nie graag verder as 5 km nie. Hy is ’n sterk swemmer en ek ’n sterk hardloper.”

Die vier kinders het elkeen ’n rits prestasies, te veel om op te noem.

Maricelle, die oudste, is ’n gr. 10-leerling aan die Hoërskool Diamantveld en fokus op atletiek en landloop. Sy het ’n Griekwaland-Wesse (GW) o.15-rekord in die 800 m en 1 500 m opgestel toe sy nog o.14 was en het in 2018 en 2019 vir Skole Suid-Afrika se atletiekkampioenskap gekwalifiseer. Sy het GW-erekleure in landloop, hou die provinsiale rekord in die 4 km vir meisies o.15 én het die eerbewys as beste hoërskool meisiesatleet in GW ontvang.

Liesa het GW-erekleure, hou die provinsiale o.9-rekord vir die 2 km en het ’n eerbewys as beste laerskool meisies-atleet in GW. In 2019 het sy die 15de plek van 110 atlete op ’n ASA SA-landloopkampioenskap behaal.

Botha het ’n GW-eerbewys as beste nuweling van die jaar ontvang.

Marisa, wat ook GW-erekleure het en as die beste senior atleet aangewys is, sou in 2019 vir die eerste keer saam met al vier kinders aan die SA-landloopkampioenskap deelneem.

“Tien dae voor die SA’s het WJ sy sleutelbeen gebreek en kon nie deelneem nie. Dit was ’n groot teleurstelling. Hy het na die SA’s uitgesien omdat hy vroeër ’n eerste plek tydens die GW-kampioenskappe behaal het,” sê Marisa.

WJ, Liesa en Botha, al drie in die laerskool aan die Futurum Akademie, neem aan spansport soos rugby, krieket, hokkie en netbal deel.

“Ons glo dat oefen ’n mens toegewydheid leer en om selfdissipline te hê.

“Dit is jy en die stophorlosie. Fokus om jou eie tyd te verbeter, fokus op jouself,” sê Marisa.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.