Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Geskorstes moet inval’
Dit kom voor asof diensleweringsprobleme in die Sol Plaatje-munisipaliteit, wat die hoofstad van die Noord-Kaap huisves, buite beheer is. Dit raak alle woonbuurte, soos ook Roodepan.Foto: Helena Barnard
Inwoners van Galeshewe moet opgedamde water in verspoelde strate aandurf om hul daaglikse take te verrig.Foto: Sol Plaatje Community Forum/Facebook

Die DA dring aan dat die geskorste stadsbestuurder en finansiële hoof van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley dadelik van hul “betaalde vakansie” van langer as twee jaar terugkeer en help om diensleweringsprobleme op te los.

Christopher Phiri, DA-koukusleier, sê die geldverkwisting van R7 miljoen moet stopgesit word.

“Ek het die departement van openbare diens en administrasie (DPSA) geraadpleeg oor die geldigheid van die verlengde skorsings van Goolam Akharwaray, stadsbestuurder, en Lydia Mathloko, finansiële hoof. Hulle sit meer as twee jaar by die huis op volle betaling, terwyl waarnemende bestuurders ook salarisse verdien.”

Phiri sê dit is vrugtelose uitgawes wat eerder op kwessies rakende dienslewering bestee kan word.

Intussen ly inwoners onder nagtelike en gereelde daaglikse onderbrekings in watertoevoer, rioollekke, slaggate, verspoelings en vullis wat oral gestort word. Milde reën het vullisverwydering vertraag en strate en huise het oorstroom nadat ’n damwal in Galeshewe gebars het.

Akharwaray en Mathloko is in 2018 geskors ná ontevredenheid oor ’n voorgestelde elektrisiteitstarief.

Duisende ontstoke inwoners het na die burgersentrum opgeruk en die stad vir dae tot stilstand gebring.

Die provinsiale departement van samewerkende regering en landelike ontwikkeling het ’n forensiese verslag saamgestel waarin regstellende stappe aanbeveel is. Akharwaray en Mathloko is geskors, maar tugstappe teen hulle is met ’n interdik gestuit.

Intussen het die raad kort-kort waarnemende stadsbestuurders en finansiële hoofde aangestel.

Phiri sê minstens vyf bestuurders en hoofde het intussen waargeneem. Hy reken salarisse van sowat R7 miljoen is aan die geskorste en waarnemende bestuurders betaal.

“Dit is ’n geweldige vermorsing, veral as ’n mens Sol Plaatje se benarde en wankelrige finansiële situasie in ag neem. Ek het reeds met Patrick Mabilo, uitvoerende burgemeester, en die menslike­hulpbron-afdeling gepraat oor die moontlikheid dat Akharwaray en Mathloko terugkeer werk toe. My indruk is dat die menslikehulpbron-afdeling meen hulle kon lankal teruggekeer het.”

Phiri sê hy raadpleeg die DPSA om die geldigheid van die uitgerekte skorsings te ondersoek.

“Kragtens die Wet op Munisipale Stelsels moet ’n dissiplinêre verhoor binne drie maande ná die skorsing van ’n senior bestuurder plaasvind, waarna die skorsing outomaties verval. Die tydperk mag nie verleng word nie.”

Hoewel die party bewus is van die bewerings wat tot hul skorsing gelei het, sê Phiri die DA gaan ’n mosie op die volgende raadsvergadering indien waarin versoek word dat Akharwaray en Mathloko terugkeer.

Die situasie waarin senior bestuurders ’n uitgerekte betaalde vakansie geniet, kan nie voortgaan nie, sê hy. Hulle moet hul werk voortsit, of opsy staan sodat die poste permanent gevul kan word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.