Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Herinneringe in olieverf verewig

n Versameling van 54 Noord-Kaapse landskapstonele van die hoogs bekroonde landskapskilder Walter Meyer word tans by die William Humphreys-kunsgalery in Kimberley uitgestal.

Dít sluit die laaste skildery, wat op Meyer se esel was toe hy op die aand van 22 Desember 2017 aan ’n messteek-wond beswyk het, in.

Die 52-jarige Meyer, waarskynlik een van die mees invloedrykste landskapskilders van ons tyd, is op dié Vrydagaand om 21:55 by sy huis vermoor.

Dit het glo ná ’n argument met sy tweede vrou Sophia (28) in die Augrabiespark-woonbuurt in Upington gebeur.

Dié jonger vrou was glo Meyer se inspirasie en verskyn in talle van die laaste skilderye wat hy geverf het.

Terwyl die raaisel rondom Meyer se dood voortduur en sy vrou en ’n ander persoon in Mei vanjaar as verdagtes in die moordsaak in Upington sal verskyn, het die uitstalling Tuisveld op Donderdag (31/01) by die William Humphreys-kunsgalery geopen.

Volgens Anna Stewart, ’n kunsprojek-leier by dié kunsgalery, duur die uitstalling nog tot Donderdag 28 Februarie.

Die uitstalling bevat Noord-Kaapse landskappe – van Hanover tot Hondeklipbaai – wat herinneringe en emosies van verlore oomblikke in olieverf vasvang.

Meyer het ongeveer 25 jaar gelede ’n holte vir sy voet in die Noord-Kaap gevind.

Gedurende hierdie tydperk het hy meer as tien verskillende studio’s in verskillende dele van die Noord-Kaap gehad.

Die skrywer en joernalis Amanda Botha noem dié landskapkunstenaar ’n prentjieboer.

Botha teken tans Meyer se lewe in ’n boek op en het as gasspreker tydens die opening van die uitstalling opgetree.

“Mense raak so emosioneel oor die begrip grond terwyl dié prentjieboer ons ’n alternatiewe manier wys om met die veld om te gaan, om die onthoubeeld jou eie te maak sonder dat kaart en transport nodig is.

“Soos die son het hy ook sy reis oor die dorre streek in die ooste begin en in die weste geëindig,” sê Botha.

“Op verskeie plekke in die omgewing het Meyer sy selfgemaakte esel staangemaak en ’n tyd lank vertoef om die val van die lig op die veld vas te vang.

“Deur sy honderde studies in olie op doek het hy meer gedoen as enige ander kunstenaar om die skoonheid en diversiteit van die Noord-Kaapse landskappe vas te vang,” sê sy.

Volgens Botha sou Meyer in sy studio deur foto’s gaan en foto’s van landskappe kies wat emosioneel ’n impak op hom gemaak het.

Sy sê Meyer se landskapskilderye was deel van ’n poging om die oorspronklike ervaring te herontdek.

Volgens haar het Meyer verkies om met behulp van sy geheue te verf.

Botha vertel dat hy altyd die gees van die oomblik probeer vasvang het deur dit met behulp van kleur en komposisie uit te druk.

Botha meen Meyer kan opreg beskou word as een van die invloedrykste landskapskunstenaars wat Suid-Afrika die afgelope twee dekades opgelewer het.

“Ons verloor ’n kunstenaar wat vir altyd ’n invloed sal hê op hoe kuns waardeer word en hoe na kuns gekyk sal word in terme van die Suid-Afrikaanse landskap,” sê Botha.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.