
Cobus Burger is een van vyf 2020-matrikulante wat eersdaags op ’n avontuur na Antarktika vertrek.Foto: Verskaf
Om ’n keiserpikkewyn – die grootste en swaarste pikkewyn ter wêreld – in lewende lywe in Antarktika te sien is die een ding wat Cobus Burger (18) “met sy hele hart wens”.
Cobus, van die plaas T’Boop Noord by Granaatboskolk, so 85 km van Upington, is een van vyf 2020-matrikulante wat Maandag (25/01) saam met avonturier Riaan Manser op ’n Russiese vragvliegtuig na Antarktika vertrek.
Verlede jaar, tydens Cobus se gr. 12-jaar aan die Hoërskool Duineveld in Upington, het sy ma ’n onderhoud met Manser op RSG gehoor. Sy het dit met haar selfoon opgeneem en vir hom, wat in die koshuis was, gestuur.
Manser het verlede jaar Matrics in Antarctica bekend gestel nadat talle van sy ekspedisies weens die Covid-19-pandemie in die slag gebly het. Hy het matrikulante van oor die land heen genooi om hulle in te skryf.
Saam met Fadli Wagiet, ’n onderwyskundige aan die Universiteit Stellenbosch, en Maryke Musson, uitvoerende hoof van die Twee Oseane-akwarium, is 100 matrikulante uit al die inskrywings gekies, toe 50. Die tien topinskrywings is in Desember aangekondig. Cobus is die enigste seun in die groep van vyf 2020-matrikulante.
Die matrikulante moes in 100 woorde of minder sê hoe die reis hulle gaan help om ’n groener, meer volhoubare bestaan te voer.
“Ek het vertel van die knellende droogte in die Boesmanland en wat ons hier met son- en windkrag en waterbesparing doen om volhoubaar te kan boer,” sê Cobus.
Manser sê hy was gaande oor Burger se eerlikheid.
Volgens Cobus, wat homself as avontuurlustig en ’n diereliefhebber beskryf, het hy hom ingeskryf om al die ys te gaan sien en omdat baie min mense ooit die voorreg sal hê om Antarktika te besoek.
Cobus moes Maandag (18/01) by die groep in Kaapstad aansluit vir ’n afsonderingstydperk volgens die Covid-19-regulasies. In dié tyd woon hulle virtuele aanbiedinge ter voorbereiding by.
Volgens beplanning vertrek hulle Maandag (25/01) en keer op Sondag 31 Januarie terug. Daarna sal Cobus vir nog ’n maand saam met sy pa kan boer voordat hy hom op 1 Maart by die Grootfontein-landboukollege moet aanmeld.
- Die TV-kanaal National Geographic sal as mediavennoot die reis dokumenteer.