Gereeld, wanneer provinsies van Suid-Afrika in statistiese opnames en in mediaberigte ter sprake is, word die Noord-Kaap nie eens genoem nie.
Talle inwoners van ander provinsies het waarskynlik eers met die verbod op strandbesoeke besef dat dié grootste provinsie in die land ’n kuslyn het en met strande (met ysige water) spog.
Die Noord-Kaap, ook die provinsie met die laagste bevolkingsgetal, huisves kontraste – van die groen omsoomde Oranjerivier wat tans met ’n magtige dreuning in die ravyn van die Augrabies-waterval neerstort, rooi sandduine wat aan woestyn herinner, wit sand wat in maande met ’n “r” in die naam “brul” . . . en die lys gaan aan.
Inwoners van die Noord-Kaap is lojaal aan dié uitgestrekte landstreek en is waarskynlik nie veel gepla as die provinsie met statistiese opnames en mediaberigte vergete bly nie.
Maar inwoners van die Noord-Kaap het op ’n punt gekom waar hulle nie meer met swak dienslewering tevrede is nie.
Kimberley, die hoofstad van die provinsie – só sou ’n mens dink – moet ’n voorbeeld stel oor hoe dienste gelewer word.
Maar helaas, dié enigste stad in die provinsie is besig om in sy dop te kruip van skaamte oor sy sorg so liederlik agterweë bly.
Riool, waterlekke, vullis, die afsny van watertoevoer, slaggate, vuil strate, onversorgde sypaadjies, verwaarloosde parke, monumente en standbeelde – wat as toerismebestemmings bemark word – breek af; doen skade.
’n Mens kan die spoor van swak dienslewering volg deur Kuruman, Olifantshoek, Upington, Keimoes, Kakamas, Daniëlskuil, Hopetown, Groblershoop, Warrenton, Hartswater . . .
Die vinger kan grootliks na munisipaliteite se wanbestuur gewys word. Maar met vingerwys is daar ’n vinger wat terugwys: Na die rommelstrooier, die een wat vuilgoedsakke op enige ruimte neergooi, wat stukkende artikels in die rioolpyp afgooi, wat oor vandalisme en afbreek stilbly, wat elektrisiteit “tap” en nie sy deel doen om dienste te vergemaklik nie.