Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hou ná hou tref NK
Te midde van ’n groeiende werkloosheidsyfer en swak uitkomste van oudit-verslae, het werknemers van die Sol Plaatje-munisipaliteit weer verlede week gestaak en in talle woonbuurte is vullissakke nie verwyder nie, soos hier te sien is in Carringtonweg. Foto: Helena Barnard
Rommel wat ophoop en waterlekke wat nie herstel word nie het sinoniem met Kimberley geword. Dié waterlek in Olympiastraat – een van talle in die stad – het die afgelope maande duisende liters vars water verlore laat gaan. Foto: Helena Barnard

Nie een van die 15 Noord-Kaapse vullisterreine wat in 2020 geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen nie.

In AfriForum se jaarlikse vullis­terrein-ouditprojek het Kimberley se terrein, deur die Sol Plaatje-munisipaliteit bestuur, slegs 52% gekry (teenoor 2019 se 82%).

Die Magareng-munisipaliteit het 14% vir sy terrein in Warrenton gekry, die Siyancuma-munisipaliteit in Douglas 4%, Phokwane in Hartswater 2% en Thembelihle in Hopetown 10%.

Volgens die verslag van AfriForum, wat verlede week vrygestel is, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes volgens die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur voldoen.

Die oudit word gedoen volgens 33 vrae wat die minimum vereistes vir vullisterreine in Suid-Afrika meet en sluit kwessies soos toegangs­beheer, brande, mediese afval, omheining en rehabilitasie in. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen.

Werner Strauss, AfriForum-distrikskoördineerder vir die Kalahari, sê die meeste terreine in die Noord-Kaap is in ’n haglike toestand. Hy sê dit kan hoofsaaklik aan algemene wanbestuur en verskuiwingstoerusting wat swak onderhou word, of glad nie nie, toegeskryf word.

Intussen is die voortgesette agteruitgang van munisipaliteite in die Noord-Kaap weer in die kollig ná voorleggings deur die ouditeur-generaal (OG) op ’n virtuele Nasionale Raad van Provinsies-aanbieding oor die 2018-’19-oudit-uitkomste van munisipaliteite.

Slegs een uit 31 munisipaliteite in die Noord-Kaap het ’n skoon oudit behaal. Die oudits van 4 munisipaliteite was uitstaande, terwyl 6 afwysende oudit­verslae en 12 gekwalifiseerde ouditmenings ontvang het.

Willie Aucamp, DA-parlementslid, het Woensdag (24/06) in ’n verklaring gesê die stagnasie en regressie is “afskuwelik”.

Dit is geen wonder dat die OG gesê het dat 63% van die munisipaliteite in die provinsie ingryping benodig, terwyl ’n verdere 26% van hulle groot kommer wek, aldus die verklaring.

Die OG het bevind dat meer as een vyfde van die munisipaliteite nie finansiële hoofde of munisipale bestuurders gehad het nie. Waar hierdie poste wel gevul was, het munisipaliteite gesukkel om te presteer, hoewel beamptes glo oor die regte kwalifikasies beskik.

Hoewel munisipaliteite baie personeel in finansiële eenhede het, het die OG benadruk dat hulle nie daar geplaas is om dienste te lewer nie. Teen dié agtergrond word gesê? dat betalings van R47 miljoen aan konsultante gemaak is om munisipaliteite in die Noord-Kaap te help met die opstel van hul ouditverslae. Ook is R12 miljoen aan konsultante betaal vir ouditverslae wat nog nie eens ontvang is nie.

Luidens die verklaring veroorsaak hierdie mense ’n verlammende uitgawe vir munisipaliteite wat reeds sukkel om selfs die mees basiese dienste aan inwoners te lewer.

In nog ’n verklaring oor die jongste arbeidsverslag, word aangedui dat die Noord-Kaap se uitgebreide werkloosheidskoers nou 40% is. Hiervolgens word veral jong werksoekers geraak. Die algehele werkloosheidsyfer vir Noord-Kapenaars van 15 tot 34 jaar het na 44% gestyg.

’n Gebrek aan ondervinding is steeds die grootste struikelblok tot indiensneming onder jong werk­soekers en die nasionale werkloosheidskoerse het reeds die hoogste vlak in die afgelope tien jaar bereik, aldus die verklaring. Die volle invloed van die inperking sal eers in volgende arbeidsverslae gewys word.

Te midde van dié aankondigings, en werknemers van die Sol Plaatje-munisipaliteit wat verlede week vir enkele dae gestaak het en onder meer nie vullisverwydering in woonbuurte gedoen het nie, het twee Noord-Kaapse LUR’e bedank.

Dit het daartoe gelei dat dr. Zamani Saul, premier, Vrydag (26/06) ’n kabinetskommeling aangekondig het.

Die redes vir die bedanking van Bernice Sinxeve, LUR vir sport, kuns en kultuur, en Martha Bartlett, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, is nie bekend gemaak nie.

Saul het die volgende skuiwe in die uitvoerende raad aangekondig:

  • gesondheid: Maruping Lekwene (voorheen finansies);
  • openbare werke: Fufe Makatong (voorheen gesondheid);
  • landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, omgewing­sake en natuurbewaring: Mase Manopole (LUR vir gesondheid);
  • sport, kuns en kultuur: Desiree Finies (’n nuweling);
  • vervoer, veiligheid en skakeling: Nomandla Bloem (voorheen landbou);
  • maatskaplike ontwikkeling: Nontobeko Vilakazi (voorheen vervoer en veiligheid); en
  • finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme: Abraham Vosloo (paaie en openbare werke, voorheen uitvoerende burgemeester van die ZF Mgcawu-munisipaliteit).

Die LUR vir onderwys, Mac Jack, en die LUR vir samewerkende regering, Bentley Vass, bly in hul portefeuljes aan.

Andrew Louw, DA-leier in die Noord-Kaap, sê in ’n verklaring dat hy die skuiwe “lagwekkend” vind.

Louw sê in die lig van die Covid- 19-pandemie, met ’n resessie en ’n dreigende depressie, wat bykomende druk op die reeds onderpresterende Noord-Kaapse regering plaas, sou hy verwag dat Saul ’n “A+-span” aan sy kant moes hê.

Die DA verwelkom die aanstelling van Lekwene in die gesondheids­portefeulje en sê hy het homself as bekwaam in die finansportefeulje bewys. Louw sê die besluit om Manopole na landbou te skuif wek kommer.

“Ons is skepties en wonder of sy soos Bloem, haar voorganger, die nodige ervaring het vir die pos.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.