Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
i-Pace laat elektrone dans

Jaguar het ons met sy nuwe i-Pace laat rondry, in toestande wat wissel van rowwe grondpaaie, na woonbuurt-sirkels en spoedwalle, tot die noodwendige snelweg.

Wat het ons hier?

Die i-Pace is Jaguar se eerste elektriese voertuig, en is boonop ’n sportnuts. Dus nie die gebruiklike Yaris-grootte stadskarretjie met komieklike afmetings en stopstraat-na-stopstraat-reikafstand nie.

Dit is ’n BMW X5-grootte sportnuts met sitplek vir vyf volwassenes, maar weliswaar met ’n veel laer dak en sportiewer profiel.

Die rede waarom Jaguar op ’n sportnuts besluit het vir sy eerste toon in die e-waters steek, is eintlik maklik: Dis die segment wat die vinnigste groei, wêreldwyd, en derhalwe die grootste kans bied om vinnig aanvaar te word.

Jy bedoel, g’n petrolenjin

Die bakwerk is grootliks van koolstofvesel en aluminium om gewig te bespaar, maar teen meer as 2 ton is hy steeds ’n lywige outjie. ’n Litium-ioon-batterypak sit in die vloer, en al vier die wiele word permanent aangedryf. Op die hoeke sit ’n stel netjiese laeprofielbande, wat die begrip “sportnuts” ietwat verloën. Maar gedagtig daaraan dat sy eienaars sekerlik nooit grondpad sal ry nie, maak dit nie juis saak nie. Tog, toe ons moes grondpad ry, het die i-Pace dit met gemak gedoen. Selfs deur kniediepte water oor ’n laagwaterbrug geploeg.

Die 90 kWh-battery dryf twee elektriese motors aan – een voor en een agter. Albei is binne-in die aandryf-as ingebou en verskaf direkte krag namate jy jou voet neersit. Die stelsel lewer 294 kW en 696 Nm wringkrag.

Daar is ook geen normale ratkas nie. Jy sit bloot net die voet neer en hy versnel oombliklik met ’n vae ge-whoei-i-i soos jy spoed optel – en dit haastig doen.

Lekker gemaklik, swaer

Afwerkings binnelangs is puik. Die inligtingskerm reg voor die bestuurder is digitaal, maar bied ’n analoog-voorkoms van ’n spoednaald met daarneffens ’n satnav-kaart.

In die middel van die voorpaneel is ’n breë, digitale raakskerm. Hiervandaan beheer jy ’n rits nutsfunksies, asook hoe om jou e-voertuig se verrigting en ritmodus na jou smaak op te stel – gemaklik, sportief, ferm vering, sulke dinge.

Die sitposisie is laer as in gewone 4x4’s, en die diep sitplekke herinner aan iets wat jy in ’n GTI sou verwag. Beenruimte voor en agter is goed en die laairuim bied ’n plat vloer wat jy kan vergroot deur die rugleunings plat te vou.

Gooi protone, uhm, kole

Die i-Pace het geen rathefboom nie. Jy druk ’n D-knoppie om te kan ry, en druk P as jy parkeer het. Daar is geen enjingeraas nie, slegs ’n fyn geloei as jy hard versnel.

Die nadeel is dat jy nie aldag weet of die voertuig aan is of nie. Die voertuig opsigself hanteer heel sportief. Die stuuraksie is lig, die versnelling dadelik daar as jy met die voet roer en dan is dit boonop ’n stamp in die rug soos al daardie Newtons dadelik aan die werk spring. Geen rubberband-getalm soos ’n binnebrandenjin nie.

Afsaal

Die i-Pace wys e-voertuie kan prakties wees. Met ’n reikafstand van meer as 400 km kan jy ’n week lank met hom pendel, of langafstande ry, voordat jy hom moet herlaai.

Daar’s ’n derde uitroepteken: In Suid-Afrika, danksy belastings en ’n pap rand weens swak ekonomiese beleid, is hy veel duurder as wat hy moet wees. Oorsee posisioneer Jaguar hom langs ’n X5. By ons, wel, hopeloos duurder.

Maar interessant, dapper, fassinerend en ’n welkome byvoeging tot ons motor-arsenaal, dit is die i-Pace gewis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.