Dit is lekker om ’n nuwe boek in jou hande vas te hou, met jou vingers oor die blaaie te streel en die reuk van vars ink op die blaaie in te adem.
As jy ’n wenboek beet het, lees jy sommer vinnig – maar as jy met ’n langdradige treurmare opgesaal sit, gaan jy waarskynlik gereeld verveeld vorentoe blaai om te sien hoe lank die dorre, uitgestrekte leespad nog aangaan.
Tog word jy soms beloon as jy aanhou lees, want ’n onverwagse kinkel kan skielik momentum gee.
So is ’n nuwe jaar as ’n voorgeskrewe boek uitgedeel. Almal in die klas van 2021 het die boek. En met dié dat ons nog net enkele bladsye uit hoofstuk een gelees het, is die jaar vol belofte en kan enigiets nog gebeur.
As skrywer en leser van jou eie verhaal, het jy ’n keuse oor sommige wendings wat jou storie neem. Oor ander weer glad nie.
Die beste waarvoor jy kan hoop, is om ten minste as die protagonis en as ’n ronde karakter aan die einde van jou verhaal uit te tree.
Met die lewe kan jy nie ’n bladsy oorslaan nie. Al sou jy graag wou, kan jy nie verby verlies, teleurstelling of teëspoed blaai nie. Gelukkig geld dieselfde vir geluk en voorspoed.
Daar is helde, skurke, verraaiers, vriende, drome, mislukkings en suksesse in jou verhaal. Sommige karakters bly vir ’n kort rukkie, ’n enkele hoofstuk of paragraaf, ander tot op die einde.
Dit sal jy eers weet wanneer jy by die heel laaste bladsy kom.
Jou lewe is joune om te skryf en te lees, redigeer en resenseer. Skryf jou naam met ink voor in. Want dit is joune. En dit is die beste en boeiendste boek wat jy ooit sal vashou.
Volksblad, verkort