Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kby-gesig blom van binne
Monique (Nicqie) Robinson van Kimberley is die Sarie Voorbladgesig vir 2020. Foto: Collected Pix
Nicqie Robinson van Kimberley, en haar man Cyril.Foto: Collected Pix

Die oortuiging dat ander mense jou waarde moet bepaal, is die grootste fout wat vroue oor hulself maak.

Só glo Monique (Nicqie) Robinson van Kimberley, wat einde verlede jaar as die Sarie Voorbladgesig vir 2020 aangewys is.

Dié identiteitstileerder, ma van twee en voormalige onderwyseres vertel sy het lank die onrealistiese verwagting gehad dat haar man, Cyril, haar goed oor haarself moet laat voel.

Dié verwagting het veroorsaak dat haar selfvertroue wipplank gery het en sy het op ’n dag besef dat jou waarde nie deur iemand anders, behalwe die Een wat jou gemaak het, bepaal word nie.

Nicqie glo ’n rein hart lei tot skoonheid omdat ’n mens dan weet wie jy is en só is selfvertroue blywend.

As ’n verklaring aan haarself dat skoonheid juis van binne kom, het sy haar lang blonde hare, wat sy geglo het “haar mooi maak”, afgesny en “so vry gekom van die leuen dat skoonheid van buite kom”.

Sy sê dat sy lank vir haarself gevra het: “Is ek genoeg?” en dat sy ’n swak selfbeeld gehad het en haarself met ander vergelyk het.

“Totdat die Here die waarheid in my hart kom vasmaak het dat ek die beste ek kan wees.”

Sarie se wekroep van #JyIsGenoeg het haar oorreed om weer vir die Voorbladgesig-kompetisie vir 2020 in te skryf – iets wat sy vyf jaar gelede sonder sukses gedoen het.

“Nou weet ek die tyd was toe nie reg nie,” sê sy.

Oor die glansgeleentheid in Desember, waarop sy as wenner aangekondig is, vertel Nicqie dat sy besluit het om dit nie as ’n kompetisie te sien nie, maar net ’n kuiergeleentheid.

“Groot was my verbasing toe my naam geroep word.”

Nicqie het vir tien jaar by ’n skool in Kimberley vir leerlinge met spesiale behoeftes skoolgehou.

Sy het met leerlinge, nege tot 12 jaar oud, wat aan fetale alkoholsindroom ly, gewerk en het funksionele wiskunde, funksionele taal en lewensoriëntering aangebied.

Verlede jaar het sy uit die onderwys bedank en ’n onderneming as identiteitstileerder begin.

“My teikenmark is vroue wat hulp nodig het met klerekasbeplan-ning en ’n gesonde leefstyl – ek hou nie van die woord dieet nie – en daardie vrou wat sukkel om te glo dat sy genoeg is.,” verduidelik sy.

Weens Covid-19-regulasies het die akademie waar sy die kursus as voorkoms-konsultant gevolg het, aanlyn middele geskep om selfs in die inperking vroue te kan help.

“Vir my werk dit fantasties, want nou kan ek vroue oor die hele wêreld help,” sê Nicqie.

Sy verkies om die woord identiteitstileerder eerder as voorkomskonsultant te gebruik omdat laasgenoemde vroue dadelik laat wonder of hulle “reg” aangetrek is.

“Die hele proses van kleur- en stylanalise gaan juis oor identiteit: Ek help om die ware jy aan die binnekant na buite te bring.”

Sy glo daarin om skoon te eet, genoeg water te drink en om enige oefening te doen wat vir jou werk.

Gebruik sonskerm, sê sy, en leer lag vir jouself en vir die lewe.

In haar onderhoud met Sarie het Nicqie vertel dat sy in 1986 in Mariental, Namibië, as die vierde kind van Alex en Marietjie Schaaf gebore is.

In Desember 1986 het haar pa, Alex, verongeluk. Haar broer Alexander, wat saam met hom in die voertuig was, het oorleef, maar ernstige skade opgedoen.

Weens dit het haar ma besluit om haar en die vier kinders in Kimberley te vestig waar Alexander ’n tweede kans in ’n spesiale skool kon kry.

Vandag, 34 jaar later, is Alexander gesond en selfstandig, ongeag dokters se voorspelling dat haar broer se “vegetatiewe toestand permanent is en dat hy die ander drie kinders sal terughou”.

Sy het ook aan Sarie gesê dat haar gunsteling-aanhaling Spreuke 31:25 is: Sy is geestelik sterk en tree altyd waardig op. Vir die toekoms is sy nie bang nie.

“Hierdie is my vers vir my besigheid, en dis ook my persoonlike motto. As jy geestelik sterk is, kan jy met hoop na die toekoms kyk, en weet dat jou lewe soveel verder as net die aarde strek,” sê sy.

Haar ma se veerkragtigheid en onwankelbare geloof is wat Nicqie steeds dryf.

“Elkeen van ons het ’n storie, elkeen het pyne en skete wat gehoor moet word. Ek deel my storie, sodat ook ander daardeur hoop kan vind.”

  • Nicqie pryk op die voorblad van Sarie se Januarie/Februarie 2021-uitgawe.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.