Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kinderparty gaan voort nadat ongeluk ma eis

Waarskynlik die laaste wens van ’n bekende Noord-Kaapse boer en sakevrou wat gesterf het toe ’n koedoe sowat 45 km buite Groblershoop op die kajuit van die bakkie waarin sy gery het, beland het, is Saterdag (06/07) vervul.

Mia van Reenen (43), vrou van Louw van Reenen (45), uitvoerende hoof van Beefmaster, is Vrydagoggend (05/07) op slag in dié ongeluk dood.

Haar seun Lourie het Saterdag 12 geword en volgens Louw was die gesin, familielede en vriende Saterdag (06/07) by hul huis in Kimberley byeen vir die verjaardagviering, net soos Mia dit sou verkies het.

Mia laat ook haar ander kinders, Liam (10), Louis­Anthony (8) en Amarí (6), agter.

“Lourie het vooraf ’n selfoon as verjaardaggeskenk gekry waarop hy sy partytjie met sy ma se hulp begin reël het. Sy het Donderdag heeltyd met hom oor die selfoon oor die reëlings gesels,” sê Louw.

“Die partytjie sou Vrydagmiddag (05/07) begin het en ’n paar maats sou oorslaap. Ons het toe die partytjie na Saterdag (06/07) aangeskuif. Sy maats en ons familie en vriende was bymekaar.

“Mia sou wou hê sy partytjie moet voortgaan, en dat ons gelukkig moet wees. Benewens sy maats, was haar en my familie en ons intieme vriende hier. Ons het gesing en die koek gesny. Ek het ook gebid.”

Volgens Louw was sy vrou altyd gelukkig. “Ek het haar dood in daardie lig aan ons kinders probeer verduidelik. Haar jongste slagspreuk was hoop.”

Mia het Vrydag omstreeks 06:00 uit Groblershoop na Kimberley vertrek. Sy het met katoen en pekanneute op ’n familieplaas by Groblershoop geboer.

“Die bok het binne-in die kajuit gespring. Haar bakkie het 400 m verder tot stilstand gekom,” het Louw gesê.

Volgens Louw sal die troosdiens gereël word nadat die polisie hul ondersoek voltooi het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.