Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Lewenspad goud werd
Frances van der MerweFoto: Verskaf

Meer as twee jaar se beplanning en harde werk het aan Frances van der Merwe (18) ’n goue eerbewys in ’n jeugbemagtigingsprogram, President’s Award for Youth Empowerment, besorg.

Sover bekend is Frances, tans in matriek, die eerste leerling aan die Hoërskool Diamantveld om so ’n internasionale eerbewys te ontvang.

Nadat Frances by vriende in private skole hiervan gehoor het, het sy besef dat dit haar dalk met universiteit-, beurs- en werk­aansoeke kan help aangesien die program internasionaal aanvaar word en reeds ’n CV op sy eie bied.

Frances het in Mei 2018 aan haar portefeulje, wat uit vyf afdelings bestaan, begin werk. Sy moes die voltooiing elke aktiwiteit noukeurig aanteken en dit deur ’n verant­woordelike persoon laat bevestig.

  • In die diensafdeling het sy vir 72 uur liefdadigheids­werk gedoen, die meeste ure hiervan by Refilwe Mabilo Development in Galeshewe vir die afrigting van jong atlete. Frances het ook by die Wild Heart-rehabilitasiesentrum na ’n renosterkalfie omgesien.
  • Vir die vaardigheidsafdeling het sy ’n sertifikaat in ’n fotografiekursus verwerf, asook haar leerlinglisensie. Die goue medalje wat sy op die International Science Fair in 2018 ontvang het, het in haar guns getel; ook die redenaars, debat en olimpiades wat sy op skoolvlak gedoen het; boonop haar betrokkenheid as redaksielid van die skoolkoerant. In 2019 het Frances ’n internasionale Duitse eksamen geslaag.
  • In die verblyfafdeling moes kandidate ten minste vier nagte en vyf opeenvolgende dae in ’n vreemde omgewing deurbring. Hiervoor was sy in Desember 2018 vir vier weke ’n uitruilstudent in Duitsland.
  • Fisiese aktiwiteit is die vierde afdeling. Hierin kon Frances haar provinsiale kleure vir tweekamp, landloop en biathle meld en dat sy in 2019 die kaptein van die Griekwaland-tweekampspan was. Swem en kontemporêre dans is ook op die lys en in 2019 het sy die tweede plek in Noordkaap en Let’s Play se Sportster van die Jaar-kompetisie verwerf.
  • Avontuurreis is die vyfde afdeling en Frances het ’n kano-rit vir vier dae en drie nagte saam met ’n groep op die Oranjerivier gedoen. Sy het ongeveer ses uur per dag geroei en elke aand haar eie tent opgeslaan.

Te danke aan dié goue eerbewys is Frances nou deel van die South African Gold Award Holder’s Association, wat as ’n professionele netwerk dien.

Indien Covid-19-regulasies dit toelaat, sal Frances later vanjaar haar sertifikaat en wapen op ’n prys­uitdeling ontvang waar die Suid-Afrikaanse president of ’n verteenwoordiger, asook ’n lid van die Britse koninklike familie, gewoonlik teenwoordig is.

Die President’s Award is deel van die Duke of Edenburgh’s International Award wat deur prins Philip, die hertog van Edenburgh, in 1956 gestig is. Aanvanklik is dit die Gold Shield Award genoem en dr. Ian Player was die eerste Suid-Afrikaanse beskermheer, met eertydse president Nelson Mandela die beskermheer van 1994 tot 2010. Die eerbewys is sedert 1994 na hom genoem.

Dit word in ongeveer 140 lande aan meer as 150 000 jongmense van 14 tot 24 jaar op ’n goue, silwer- of bronsvlak toegeken. Dié program word as die mees inklusiewe, holistiese jeugontwikkelingsprogram in Suid-Afrika beskou en die afgelope tien jaar het 170 Noord-Kapenaars hieraan deelgeneem.

Een van die bekendste mense wat ook so ’n goue eerbewys verwerf het, is Kate Middleton, die hertogin van Cambridge, en ook Katie Melua.

Frances vertel dat sy uit hierdie program geleer het hoe om daadwerklik aan haar portefeulje te werk en hoe om beskikbare tyd optimaal te bestuur.

Sy het vir haarself bereikbare doelwitte gestel en was toegewyd om die program suksesvol te voltooi.

“Ek het ’n gebalanseerde verskeidenheid mense, wat baie inspirerend is, ontmoet. Ek glo ook ek het as persoon gegroei en hoop om ander te inspireer om voluit te lewe.”

Dat haar planne nie op is nie, is duidelik. Tydens die inperking het sy begin om haar eie kuns op sosiale media te verkoop én sy is besig om ’n boek met ondertone van Noorweegse mitologie te skryf, asook ’n digbundel.

Haar eerste beroepskeuse is dié van ’n arbeidsterapeut en sy werk baie hard om die keuring te slaag.

“One lifetime is not enough,” sê sy oor dit wat sy vorentoe nog wil bereik.

Frances van der MerweFoto: Verskaf
Frances van der Merwe (18) aan die hardloop een vroegoggend in Venesië in 2017. Frances het ’n goue eerbewys in ’n gesogte jeugbemagtigingsprogram verwerf. Van links leef sy haar kunstalent uit; roei op die Oranjerivier; sien om na ’n renosterkalfie; is haar foto-kuns-weergawes getiteld “Pressure” en “Overthinking” te sien en is sy in die laboratorium besig. Foto: Verskaf
Frances van der MerweFoto: Verskaf
Frances van der MerweFoto: Verskaf
Frances van der MerweFoto: Verskaf
Frances van der Merwe se Pressure Foto: Verskaf
Frances van der Merwe se Overthinking.Foto: Verskaf

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.