Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Mej. SA dalk uit NK of VS

’n Noord-Kapenaar en ’n Vrystater in Volksblad, moederkoerant van Noordkaap, se lesersgebied is onder die 35 finaliste van die Mej. Suid-Afrika-kompetisie.

Lara Steenkamp (20) en Martinique Ferreira (23), onderskeidelik van Upington en Bloemfontein, wil dié kompetisie as platform gebruik om die jeug op te hef.

Steenkamp, ’n derdejaarstudent in BCom Regte aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, sê sy is “baie, baie opgewonde” daaroor dat sy onder die finaliste is. Sy voel trots en geëerd.

“Dit was vir my nog meer van ’n verrassing dat ek die enigste finalis uit die Noord-Kaap is,” sê sy.

Dié oudleerling van die Hoërskool Duineveld in Upington sê sy wil die kompetisie as platform gebruik om meer met die jeug te werk.

Sy wil ’n veilige hawe vir straatkinders begin en bewustheid onder leerlinge wek dat daar steeds geleenthede is vir kinders wat nie geld het om universiteit toe te gaan nie.

Steenkamp is in die Karlien-vrouekoshuis en maak graag rokke in haar koshuiskamer. Sy sê sy is senuagtig oor die kompetisie, maar voel “wat moet gebeur, sal gebeur”.

Ferreira, ’n voormalige Mej. Vrystaat, sê dit was nog altyd haar passie om mense te help en te laat voel hulle is meer werd as wat die samelewing sê.

Sy is ’n grafiese ontwerper en sosialemedia-bestuurder in Stellenbosch en kon kies of sy die Vrystaat of die Wes-Kaap wou verteenwoordig.

“Die Vrystaat is my tuiste, dit is waar ek vandaan kom,” sê dié oudleerling van die Laer Meisieskool Oranje en die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein.

Sy is ingenome dat sy en Sisa Mdoda (25) van Sasolburg die enigste finaliste uit die Vrystaat is, en dat hulle twee finaliste van verskillende rasse en agtergrond is.

“Dit is vir my ongelooflik om te weet sentraal-Suid-Afrika kan ook nog in die kompetisie verteenwoordig word.”

Sy wil die kompetisie as platform gebruik om op opvoeding te fokus en wil graag leersentrums oprig. Sy wil die jeug in hulself laat glo en leer dat hul verlede nie hul toekoms bepaal nie.

Sy stres glad nie oor die kompetisie nie, sê Ferreira.

“Ek weet al 35 meisies het ’n passie vir dit waarvoor hulle staan. En almal het ’n stem van verandering. Daag op, wees wie jy moet wees, doen jou bes, die pad vorentoe is klaar deur liewe Jesus vir jou uitgelê,” is haar benadering.

Die 16 topfinaliste word Donderdag (11/07) bekend gemaak.

Hulle ding op 9 Augustus om die Mej. Suid-Afrika-titel mee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.