Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Misdaadstatistieke ‘kommerwekkend’

Veediefstal is ’n ernstige probleem wat ernstig aandag moet kry, het Bheki Cele, minister van polisie, Vrydag (13/11) gesê.

Cele het die misdaadstatistieke vir die tweede kwartaal, wat van 1 Julie tot 30 September strek, bekend gemaak.

Volgens hom was daar in dié tydeperk 7 339 klagte van veediefstal. Dit het 26 322 skape en meer as 14 000 beeste ingesluit.

Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomings­forum, sê dié organisasie is dankbaar dat veediefstal as ’n ernstige probleem erken word.

Dit is reeds in 1995 tot ’n prioriteitsmisdaad verklaar en ’n spesiale polisie-eenheid – die veediefstaleenheid – is toe gestig.

“Dié eenheid het behoue gebly toe ander spesialiseenhede tot niet gemaak is,” sê Clack.

Die veediefstalvoorkomingsforum is in dieselfde jaar gestig. Dit is die eerste in sy soort in die wêreld.

“Ons groot probleem is polisiekantore wat weier om veediefstalsake te open, veediefstalsake wat so swak ondersoek word dat aanklaers weier om te vervolg en verdagtes wat te maklik parool kry. Die toenemende gewapende roof van vee is ook baie kommerwekkend.”

Clack sê die statistieke oor veediefstal toon nie die volle prentjie nie omdat baie boere dit nie eens meer aanmeld nie.

Die misdaadstatistieke toon dat moord in die tweede kwartaal met 47% toegeneem het, poging tot moord met 42%, roof met verswarende omstandighede met 52% en motorkaping met 79%.

Verkragting het volgens die statistieke bykans verdubbel.

Dr. Guy Lamb, politieke wetenskaplike en kenner op die gebied van misdaad, geweld, konflik, veiligheid en polisiëring, sê dit is duidelik die inperking weens die Covid-19-pandemie het ’n rol gespeel.

“Baie mense was met die aanvanklike inperkingstyd by die huis, het nie baie rondbeweeg nie en is byvoorbeeld nie aan misdaad op straat blootgestel nie. Daar was ook meer sigbare polisiëring in die aanvanklike inperkingstyd.

“Noudat mense meer rondbeweeg, neem veral geweldsmisdaad erg toe. En dit is duidelik dat alkohol ’n groot kwessie bly,” sê Lamb.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê ’n groot bron van kommer is die toename in rooftogte by woonhuise (met 8,5%) en die skerp toename in plaasmoorde (62,5%).

“Die VF Plus vra opnuut dat plaasmoord tot ’n prioriteitsmisdaad verklaar word,” sê Groenewald.

Sarel van der Walt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.