Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Mishandelde vroue vind ’n toevlug

“I didn’t leave for me. I left for you.”

Dit is die woorde wat ’n betrokkene by die Women to Women-organisasie van haar kinderdae onthou toe haar ma uit ’n verhouding waarin sy mishandel is, gebreek het.

Belanghebbendes het Vrydag (22/11) meer oor Women to Women vertel, ’n nie-regerings­organisasie (NRO) wat in Augustus 2013 Priscilla Smith se geesteskind was.

“Women to Women gaan oor bemagtiging van mishandelde vroue; oor om weg te beweeg daarvan om net te oorleef,” vertel Smith.

Die Women to Women Villa, nou die eiendom van die organisasie, is ook Vrydag amptelik bekendgestel en die aankoop van die eiendom, met die hulp van die Nasionale Loterykommissie (NLC), is gevier.

’n Paar jaar gelede toe Women to Women in Kimberley geloods is, is dit by die eiendom gedoen en toe het die stigterslede ’n wens uitgespreek om ook eendag so ’n eiendom vir die organisasie te hê.

Die villa bied skuiling vir mishandelde vroue en hul kinders, maar ook meer. Behalwe sekuriteit – “want die vroue moet hier veilig voel” – word berading aangebied. Beplanning is in plek om vir die vroue vaardighede aan te leer, onder meer dié van ’n haarkapper.

’n Ruimte wat as ’n haarsalon sal dien, is reeds gedeeltelik ingerig en vaardigheidsopleiding kan in twee sale plaasvind. Die sale kan ook vir geleenthede verhuur word.

“Dit gaan oor volhoubaarheid,” se Smith.

“Mishandeling sal minder wees as vroue bemagtig word,” meen Stephanie Cloete, ook ’n be­trokkene.

Die geesdriftige betrokkenes by die organisasie het reeds beplanning vir verdere vooruitgang gedoen, soos die vestiging van onder meer ’n inbelsentrum en die aankoop van ’n voertuig.

Die villa, voorheen ’n gastehuis, bied talle slaapkamers met badkamers en ook woonstelle.

Volgens die beleid van die NLC het die Women to Women NRO voldoen aan die vereistes van goeie korporatiewe bestuur, het die organisasie ’n goeie agtergrond en het dit deur jare bewys dat projekte beplan word en suksesvol uitgevoer word.

Die betrokkenes se geesdriftigheid en die goeie besluite wat hulle reeds geneem het, het daartoe bygedra dat die NLC geld aan die organisie bewillig het vir die koop van die eiendom.

Hoe lank ’n vrou en kind by die villa bly, hang van elke situasie af.

“Wanneer sy hier uitgaan, moet sy gereed wees,” sê Smith.

Selfstandigheid en die vermoë om selfversorgend te wees, is die kerngedagte.

Vroue kan direk by die villa vir hulp aanklop, maar die proses moet die amptelike stelsel van maatskaplike werkers, die departement van welsyn en die polisie volg.

Sedert die totstandkoming van Women to Women het die organisasie se betrokkenheid in die gemeenskap wyd uitgekring.

Klere en toiletbenodigdhede is onder meer vir meer as 1 200 vroue van die omliggende gebiede gegee wat vir lang tydperke by die Robert Sobukwe-hospitaal moes wees ná die geboorte van babas by wie komplikasies ingetree het.

Met die Barefoot-veldtog, wat op bewusmaking oor verkragting gemik is en om ondersteuning aan slagoffers van verkragting en seksuele mishandeling te bied, wys hulle dat dit moontlik is om kaalvoet te loop, maar dit is nie altyd gemaklik nie en kan selfs pynlik wees.

Women to Women reik ook uit na vroue in die tronk.

“Veg met liefde. Nie met gewere en pangas nie,” glo die organisasie.

En soos een van die betrokkenes gesê het: “Vroue het ’n krag in hulle. Dit is nie ’n luide krag nie. Vind jou krag. Dit is jou reis.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.