Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Moorde nou ’n rolprent

’n Fliek oor die opspraakwekkende Griekwastad-moorde, met die bekende Hollywood-akteur Arnold Vosloo in die hoofrol, sal later vanjaar by kykNET se Silwerskermfees, wat van 21 tot 24 Augustus plaasvind, bekend gestel word.

Dit sal volgende jaar uitgereik word.

Verfilming van dié vollengte rolprent, met die voorlopige naam Griekwastad, sal in Mei in Hopefield aan die Weskus begin, met slegs veraf- en buitetonele wat in Griekwastad verfilm sal word.

“Dit is weens logistieke redes omdat ’n hele rolprentspan nooit in die dorp gehuisves kan word nie,” meen Vosloo.

“Ons wil ook nie te veel wonde oopkrap deur in Griekwastad te verfilm nie.”

Vosloo, bekend vir sy rol in onder meer die Mummy-rolprente, vertolk die rol van brig. (toe kol.) Dick de Waal, wat die moordsaak ondersoek het.

De Waal het Don Steenkamp in Augustus 2012, ’n paar dae ná sy 16de verjaardag, by Grey-kollege in Bloemfontein in hegtenis geneem.

Die twee rolprentmakers, Jozua Malherbe (regisseur) en Tim Theron (mede-vervaardiger en akteur), is in Suid-Afrika en sou dié week die plaas Naauwhoek en die dorp Griekwastad besoek waar Don Steenkamp as 15-jarige seun ongeveer sewe jaar gelede sy ouers, Deon (44) en Christel Steenkamp (43), en sy suster, Marthella (14), doodgeskiet het.

Steenkamp is in 2014 tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis op die drie aanklagte van moord, regsverydeling en die verkragting van sy suster.

Hy dien sy vonnis sowat 260 km van Griekwastad in die Upington-gevangenis uit.

Die rolprent begin glo op ’n volmaan- Goeie Vrydagaand in 2012 met ’n bebloede Don Steenkamp wat die voorval as ’n plaasmoord by die polisiekantoor aanmeld.

Vosloo sê die rolprent fokus op die polisieondersoek en die uitkring­effek van die moorde, eerder as net op die moorde of die moordenaar.

Die rolprent eindig waar die hofsaak begin.

Volgens Vosloo gaan hy binnekort vir twee weke saam met die res van die rolprentspan en die akteurs repeteer.

“Dit maak dit makliker om tonele te skiet as ons alles vooraf goed ingeoefen het.

“Ek lees die teks daagliks een keer deur en leer die finale woorde die dag voordat ons skiet,” vertel hy.

Volgens die akteur, wêreldwyd bekend vir sy rol in onder meer die Mummy-rolprente en Bosch, ’n TV-reeks waarin hy ’n “nare polisieman” vertolk, was dit nog altyd sy droom om weer in ’n Afrikaanse rolprent te speel, iets wat hy laas in sy 20s in die Boetie gaan border toe-rolprente gedoen het.

“Ek was baie opgewonde oor die rol, juis omdat dit in Afrikaans is. Ek wil darem in twee of drie Afrikaanse rolprente speel voordat ek aftree,” sê Vosloo.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.