Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Morsjorse baljaar

Ongeag talle skoonmaak-projekte wat in Kimberley deur die Sol Plaatje-munisipaliteit, organisasies en selfs ’n studentegroep begin is, blyk dit asof die skoonmakers nie kan kers vashou by die morsjorse nie.

’n Noordkaap-leser is van mening dat mense in ’n kultuur van mors verval het.

Dié inwoner is veral ontstem deur ’n deel van New Park, in die omgewing van die Sol Plaatje-universiteit (SPU) en die Northern Cape Urban TVET-kollege, wat bemors word.

“Die ergste is die besef dat dit waarskynlik studente is wat binne enkele jare as volwasse beskou gaan word en ’n voorbeeld moet stel,” sê die inwoner, wat al ’n voertuigband van R1 600 moes vervang wat deur ’n gebreekte drankbottel in die teerpad beskadig is.

Behalwe dat dié morsjorse in die openbaar drink, word baksteenmuurtjies afgebreek en die stene gebruik om sitplek op sypaadjies te maak. Openbare urinering is aan die orde van die dag en die inwoner vertel dat die jong mans nie eens hul rug na die verkeer draai nie.

“Hulle staan oop en bloot en gee nie om wie wat van hulle sien nie.”

Verder sê die inwoner, wat bykans daagliks in onder meer Lawson- en Truterstraat moet ry, dat “oupas” gereeld gesien word wat stukkende bottels optel.

“Dit is so ironies dat die jonges mors en die oues opruim,” reken die inwoner en vertel dat leerlinge, in skooldrag, ook al opgemerk is waar hulle tydens skoolure in ’n skynbaar bedwelmde toestand in een van die grondstrate, net ná Lawsonstraat, lê.

Tydens ’n besoek van Noordkaap aan dié strate is talle jong mans opgemerk wat op bakstene op ’n sypaadjie in Truterstraat sit. Jong mans is ook gesien waar hulle bierbottels, wat pas leeggedrink is, tussen die plantegroei in Lawsonstraat gooi.

Saterdag (23/11) laatoggend het tientalle leë bierbottels die grasperk tussen Scanlanstraat en Dalhamweg, voor die SPU, die ingang na die universiteit ontsier.

Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, het op ’n vorige geleentheid gesê dat drink in die openbaar, net soos urinering in die openbaar, teen die wet is en dat oortreders vervolg kan word.

Kashini Maistry, kommunikasie- en bemarkingbestuurder van die SPU, sê die universiteit is bewus daarvan dat die speel van luide musiek en drankgebruik in die openbaar oor die naweek in daardie gebied plaasgevind het.

Sy sê dit is na die polisie verwys en dat dié spesifieke voorval nie met studente verband hou nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.