SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Nuus
’n ‘A’ vir Mercedes

Onthou jy hoe die heel eerste A-klas gelyk het? Die stomp agterstewe en die skerp eendbekkie voor, gewild by pensioentrekkers, en sy beste eienskap die wapen voorop?

’n Paar matige ontrimpelings later stel Mercedes-Benz die derdegeslag-A-klas in 2012 bekend. Toe’s hy ewe skielik ’n harde ruk-en-rol-ster, met bypassende vering.

Met die laaste verfrissing in 2015 was daar min veranderings, en die ritgehalte was nie veel sagter nie, tensy jy lugvering sou byvoeg. Maar die A-klas is steeds gewild onder Suid-Afrikaanse kopers, veral vroue.

’n Draai in die regte rigting?

Vir 2018 se A-klas gooi Mercedes-Benz die appelwa weer heeltemal onderstebo. Die nuwe A-klas lyk soos ’n nuwe motor, en ry ook soos een, danksy verstelbare vering (standaard).

Die ontwerpers se stilering­slagspreuk was “sensuele suiwerheid”, en dit is te siene in die vloeiende lyne van die koninklike neus, asook hoofligte wat netjies na agter swiep – kompleet asof hulle wil knipoog.

Die nuwe A-klas skud 20 kilo’s af, ten spyte daarvan dat hy effens groter is, meer ruimte binne bied en ’n kattebak het wat 29 liter meer bagasie kan akkommodeer. Die agteraansig is met minder aandag aangepak.

E- en S-klas-kajuitkombinasie

Die binneruim is ten volle geroskam om splinternuut vir 2018 te vertoon.

Die knoppiebelaaide stuurwiel, byvoorbeeld, is net so uit die S-klas oorgedra, en die raakskerm wat strek tot by die digitale snelheids­meter en toereteller, vind ook ’n tuiste hier.

Maar dit is die nuwe MBUX-multimediastelsel (standaard) met bypassende stemaktivering wat die groot nuus is – nou kan jy op ’n natuurlike manier met die stelsel “praat” en dan word jou opdragte (wel, die meeste daarvan) uitgevoer.

Dié kunsmatige-intelligensie­stelsel is ook veronderstel om jou beter te leer ken, hoe langer jy jou A-klas ry: hoe jy praat, waarheen jy gewoonlik ry, wie jy gereeld bel, en so meer.

Hoe is die rit?

Op die bekendstelling het ons slegs die A200 gery, met sy nuwe 1.3-liter-turbo-enjin wat die ou 1.5-liter-kragbron vervang (en die A250 word nou met ’n nuwe tweeliter-enjin toegerus).

In “Comfort”- en “Eco”-modus voel ’n mens amper nie die oneweredige pad onder die wiele nie, en dis ’n heel ruggraat-vriendelike ry-ervaring. Stukke beter as die vorige geslag.

Van nou af is elke model toegerus met Merc se sewegang- outomatiese ratkas. Dié ratkas was wel effens traag om na ’n hoër rat oor te skakel, ten spyte daarvan dat ons meestal in gemak- of eko-modus gery het.

Wil ek een hê?

Ek is gaande oor die nuwe A-klas se stilering. Dit is weelderig, gesofistikeerd, en lyk boonop peperduur.

Maar as dit by die outonome stelsels kom, kan niemand nog kers vashou by die gebruiksvriendelikheid van Volvo nie. Terwyl die A-klas se kajuit my oorweldig met knoppies, blink oppervlakke en raakskerms, stel die Volvo se binneruim my op my gemak. Die intreevlak-V40 het dalk nie dieselfde rolprentster-voorkoms as die A nie, maar dit kos ’n hele R100 000 minder . . .

  • Dié A-klas-sedan, en die diesel­modelle, maak hul verskyning in 2019. – Motorredaksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.