Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
NK se aasvoëlkroos gering
Aasvoëls
Die span wat die aasvoëlkuikens in Mokala gering het, is van links na regs: Heidi Fölscher (McGregor-museum), Byron Mannie (vrywilliger en boomklimmer), Ronelle Visagie (Trust vir Bedreigde Natuurlewe) en Beryl Wilson (McGregor-museum). Foto: Verskaf
Aasvoëls
Elke aasvoëlkuiken word versigtig uit die nes gehaal voordat die ouderdom bepaal en algehele gesondheid bekyk voordat dit geweeg, gemeet, gering en etikette aan die vlerke aangebring word. Beryl Wilson en Ronelle Visagie is hard aan die werk op een kuiken.
Aasvoëls
Esau Richards, van die McGregor-museum het aangebied om in kameeldoringbome te klim om aasvoëlkuikens versigtig uit te haal sodat dit geweeg en gemerk kan word voordat hy dit weer veilig in die nes teruggesit het.

Omdat oorsese vrywilligers weens die Covid-19-pandemie nie na Suid-Afrika kon reis nie, is die jaarlikse opname van witrug­aasvoël­kuikens in die Mokala- Nasionale Park, Dronfield-wildreservaat en die Van Zylsrus-omgewing benadeel.

Tog was vanjaar ’n jaar van mylpale vir Ronelle Visagie, ’n veldwerker van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe, en Beryl Wilson, dierkundige aan die McGregor-museum in Kimberley.

In die 11 jaar dat hulle saam werk, het hulle 500 aasvoëlkuikens gering en merkers op die vlerke aangebring.

Wilson is tevrede met die waarnemings wat hulle die afgelope twee maande kon doen.

Sy sê die plaaslike span het 46 kuikens in neste op kameeldoring­bome in Mokala getel en gering, maar getalle was heelwat minder in Dronfield, waar daar ook 46 getel is. Die mikpunt was om 60 kuikens in Dronfield te tel.

Weens ’n gebrek aan werkers en veral boomklimmers kon die span nie na Van Zylsrus reis nie.

“Wanneer die oorsese vrywilligers kom, is daar twee boomklimmers wat elk tien bome per dag klim om die kuikens uit die neste te haal sodat dit op die grond geweeg, gemeet en gering kan word. Bloed word ook getrek voordat die kuikens weer in die neste geplaas word,” sê Wilson.

In Dronfield het die span iets baie merkwaardigs gesien.

“Twee kuikens is in een nes aangetref. Hulle verskil waarskynlik drie of vier weke in ouderdom.”

Dit is die eerste keer dat so iets in Dronfield aangetref word.

“Ek vermoed dit is twee verskillende wyfies se kuikens. Dalk is die ander eier gelê deur ’n jonger wyfie wat aangebly het om haar ouers met die nuwe broeisel by te staan.”

Sy vermoed die ouer kuiken, wat al van boom na boom spring, is ’n mannetjie en die jonger een ’n wyfie.

Wilson, wat al 2 200 voëls hanteer het, sê sy kan redelik akkuraat manlike kuikens van vroulike kuikens onderskei op grond van hul gedrag, kleur en kopvorm. Gewoonlik kan aasvoëls se geslag net deur DNS-ontleding en interne ondersoeke bepaal word.

“Elke keer wanneer ons die bloedmonsters ontleed, vergelyk ek dit met my aantekeninge vir my doktorale studie waarin ek voorspel of dit ’n mannetjie of wyfie is. My voorspellings blyk meestal in die kol te wees.”

Weens brande in die omgewing is daar vanjaar baie karkasse waaraan aasvoëls vreet.

“Dit bevoordeel die aasvoëls omdat daar baie kos is wat die ouers vir die kuikens voer,” sê Wilson.

“Ongelukkig het ons gesien dat blouape ’n volwasse aasvoël en ’n kuiken in die nes aangeval en geëet het. Die ape kan maklik al langs die spantorings beweeg, weg van die riviere waar hulle meestal bly. Die spantorings bied natuurlik ook rus- en uitkykplek vir voëls.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.