Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Noord-Kaap kry houe

Nie een van die 15 Noord-Kaapse vullisterreine wat in 2020 geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen nie.

In AfriForum se jaarlikse vullisterrein-ouditprojek het Kimberley se vullisterrein, wat deur die Sol Plaatje-munisipaliteit bestuur word, slegs 52% gekry (in vergelyking met 2019 se 82%).

Die Magareng-munisipaliteit het 14% vir sy vullisterrein in Warrenton gekry, die Siyancuma-munisipaliteit in Douglas 4%, Phokwane in Hartswater 2% en Thembelihle in Hopetown 10%.

Volgens die verslag van AfriForum, wat verlede week vrygestel is, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes volgens die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur voldoen.

Die oudit bestaan uit ’n lys van 33 vrae wat die minimum vereistes vir vullisterreine in Suid-Afrika meet en sluit toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining, rehabilitasie en dies meer in. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen.

Volgens Werner Strauss, AfriForum-distrikskoördineerder vir die Kalahari, is die meeste vullisterreine in die Noord-Kaap in ’n haglike toestand.

Hy sê dit kan hoofsaaklik aan algemene wanbestuur en verskuiwingstoerusting wat swak of glad nie onderhou word nie, toegeskryf word.

Intussen het die voortgesette agteruitgang van munisipaliteite in die Noord-Kaap weer aan die lig gekom na voorleggings deur die ouditeur-generaal (OG) tydens ’n virtuele Nasionale Raad Van Provinsies (NRVP)-aanbieding oor die 2018-’19-oudit-uitkomste van munisipaliteite.

Slegs een uit 31 munisipaliteite in die Noord-Kaap het ’n skoon oudit behaal. Aan die ander kant van die spektrum was die oudits van vier munisipaliteite uitstaande, terwyl ses munisipaliteite afwysende ouditverslae en 12 munisipaliteite gekwalifiseerde ouditmenings ontvang het.

In ’n mediaverklaring Woensdag (24/06) het Willie Aucamp, DA parlementslid, gesê die stagnasie en regressie is “afskuwelik”.

Dit is geen wonder dat die OG gesê het dat 63% van die munisipaliteite in die provinsie ingryping benodig, terwyl ’n verdere 26% van hulle grootste kommer wek, lui die verklaring.

Die OG het voorts bevind dat meer as een vyfde van die munisipaliteite nie hooffinansiële beamptes of munisipale bestuurders gehad het nie. Waar hierdie poste wel gevul was, het munisipaliteite gesukkel om te presteer, hoewel beamptes blykbaar oor die regte kwalifikasies beskik.

Benewens die feit dat munisipaliteite ook baie personeel in finansiële eenhede het, het die OG benadruk dat hulle nie daar geplaas is om dienste te lewer nie.

Teen dié agtergrond word ges? dat betalings van R47 miljoen aan konsultante gemaak is om munisipaliteite in die Noord-Kaap te help met die opstel van hul ouditverslae. Verder is R12 miljoen aan konsultante betaal vir ouditverslae wat nog nie eens ontvang is nie.

Luidens die verklaring veroorsaak hierdie mense ’n verlammende uitgawe vir munisipaliteite wat reeds sukkel om selfs die mees basiese dienste aan inwoners te lewer.

In nog ’n verklaring oor die jongste arbeidsverslag, word aangedui dat die Noord-Kaap se uitgebreide werkloosheidskoers nou 40% is. Volgens dié verslag word veral jong werksoekers deur werkloosheid geraak.

Die algehele werkloosheidsyfer vir persone van 15 tot 34 jaar het tot 44% gestyg.

’n Gebrek aan ondervinding is steeds die grootste struikelblok tot indiensneming onder jong werksoekers en die nasionale werkloosheidskoerse het reeds die hoogste vlak in die afgelope tien jaar bereik, aldus die verklaring.

Die volle impak van die inperking sal eers in opkomende arbeidsverslae gewys word.

Te midde van dié aankondigings, en werknemers van die Sol Plaatje-munisipaliteit wat verlede week vir enkele dae gestaak het en onder meer nie vullisverwydering in woonbuurte gedoen het nie, het twee Noord-Kaapse LUR’e bedank.

Dit het daartoe gelei dat dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, Vrydag (26/06) die kabinetskommeling weens die bedankings aangekondig het.

Die redes vir die bedanking van Bernice Sinxeve, LUR vir sport, kuns en kultuur, en Martha Bartlett, vir maatskaplike ontwikkeling, is nie bekend gemaak nie.

Saul het die volgende skuiwe in die uitvoerende raad aangekondig:

  • gesondheid: Maruping Lekwene (voorheen finansies);
  • openbare werke: Fufe Makatong (voorheen gesondheid);
  • landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, omgewingsake en natuurbewaring: Mase Manopole (tot nou LUR vir gesondheid);
  • sport, kuns en kultuur: Desiree Finies (’n nuweling);
  • vervoer, veiligheid en skakeling: Nomandla Bloem (voorheen landbou);
  • maatskaplike ontwikkeling: Nontobeko Vilakazi (voorheen vervoer en veiligheid); en
  • finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme: Abraham Vosloo (paaie en openbare werke, voorheen uitvoerende burgemeester van die ZF Mgcawu-munisipaliteit).

Die LUR vir onderwys, Mac Jack, en die LUR vir samewerkende regering, Bentley Vass, bly in hul portefeuljes aan.

Andrew Louw, DA-leier in die Noord-Kaap, sê in ’n mediaverklaring dat hy die skuiwe “lagwekkend” vind.

Louw sê in die lig van die huidige situasie met die Covid-19-pandemie, tesame met ’n resessie en ’n dreigende depressie, wat bykomende druk op die reeds onderpresterende Noord-Kaapse regering plaas, sou hy verwag dat Saul ’n “A+-span” aan sy kant moes hê om die provinsie deur moeilike omstandighede te stuur.

“Die DA is bevrees die premier het homself te kort gedoen met sy keuse van kabinetslede,” sê hy.

Die DA verwelkom die aanstelling van Lekwene in die gesondheidsportefeulje en sê hy het homself as bekwaam in die finansportefeulje bewys. Louw sê hy hoop Lekwene sal verligting vir die departement bring wat dringend beslissende leierskap benodig.

Hy sê die besluit om Manopole na landbou te skuif wek kommer.

“Ons is skepties en wonder of sy soos Bloem, haar voorganger, die nodige ervaring het vir die pos. Dié sektor, wat reeds onder twee rampe gebuk gaan, benodig onbevooroordeelde leierskap.”

Die aanstelling van ’n nuweling, Finies, is vir Louw ’n verrassing aangesien sy nie ondervinding in die provinsiale wetgewer het nie.

Maar Makatong se aanstelling verras hom die meeste. “Sy het misluk met die gesondheidsdepartement en wat haar bydrae tot die provinsiale regering kan wees, word bevraagteken.”

Die nuwe lede is Vrydagmiddag deur die Noord-Kaapse regterpresident, Pule Tlaletsi, ingesweer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.