Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Onsekerheid oor huise knaag

’n Onsekere toekoms staar talle inwoners van Homelite in Kimberley steeds in die gesig omdat hulle ná verskeie dekades nog wag op die transportaktes vir die huise waarin hulle woon.

Noordkaap het die afgelope week van minstens 50 inwoners van Homevale te hore gekom wat, lank nadat hulle kontrakte geteken het, steeds op hul transportaktes wag.

Die papiere lê glo by verskeie regsfirmas oor Kimberley heen wat op hul beurt op die Sol Plaatje-munisipaliteit wag om oordragkoste te betaal, voordat die eiendom in hul name geregistreer kan word en die transportaktes uitgereik kan word.

Abdullah Laharadien (52) van Haddockstraat in Homelite sê hy wag al 24 jaar op sy transportakte.

“Wat die ophou is, weet ons nie. Ons het al verskeie kere geteken. Ons weet nie eens of die huis waarin ons bly aan ons sal behoort nie. Totdat ons ’n titelakte het, kan ons (hy en sy vrou) nie bewys dat ons die regmatige eienaars van die huis is nie,” sê hy.

Inwoners soos Laharadien vrees dat hulle enige tyd die dak oor hul kop kan verloor.

Daar is ook stories van mense wat geld onder die tafel aan amptenare deurstoot om ander se huise op ’n korrupte wyse te bekom en tot uitsetting van inwoners kan lei.

Isak (55) en Magdalena (52) Cupido van verder af in Haddockstraat in Homelite vertel hulle wag reeds 14 jaar op die transportakte vir hul huis.

Isak ly aan nierversaking en moet gereeld dialise ondergaan. Hy vrees die dag wat hy uit die huis gesit word. In sy huis is ’n stapel dialisevoorraad wat hy iewers sal moet berg. “As ek op straat sit, sal ek nie weet waar om al hierdie goed te berg nie.”

Lorraine “Pinky” Steenkamp (43) van 21ste Straat, bly al 14 jaar in haar huis.

Volgens Steenkamp is inwoners kort voor vanjaar se verkiesing weer belowe dat hulle transportaktes sou kry. Van hierdie beloftes het niks gekom nie. Sy kla dat sy nie kan aanbou sonder ’n transportakte nie.

Sy vrees ook dat sy enige tyd uit haar huis gesit kan word aangesien sy nie ’n transportakte het om te bewys dat sy die regmatige eienaar van die huis is nie.

’n Ander inwoner wat in ’n rolstoel gekluister is, vertel dat hy vrees die dag wanneer ander mense sal kom en die huis waarin hy en sy vrou bly vir hulself sal toeëien.

“Sonder ’n transportakte behoort die eiendom aan die stadsraad. Ons kan nie aanbouings doen nie. Alles staan stil,” sê die man.

“As ek tot sterwe kom en jou vrou het nie reg op die erf nie . . . mense het al hulle huise so verloor. Mense is al uitgesit.”

Navrae is aan die Sol Plaatje-munisipaliteit en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), by wie die probleem glo lê, gestuur.

Sello Matsie, ’n woordvoerder die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê die probleem is nie uitsluitlik beperk tot inwoners van Homelite nie, en dat dit veel wyer strek.

“Talle inwoners oor Kimberley heen wag steeds op hul transportaktes. Om presies te wees lê die gebrek aan geld wat nodig is om vir die eiendomstransaksies te betaal – wat miljoene rande beloop – aan die kern van die probleem.

“Wanneer finansiering wel (deur Cogta) beskikbaar gemaak word, maak die munisipaliteit seker dat eiendomstransakies waar moontlik afgesluit word.”

Xhanti Teki, ’n woordvoerder vir Cogta, het nie op Noordkaap se navrae reageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.