Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ontdek Galeshewe se ryk geskienis

Interessante stories oor die rol van Kimberley se mense in die apartheidstryd lê soos diamante, wat wag om ontdek te word, deur die Galeshewe-township gesaai.

Só het Noordkaap op ’n besoek aan Galeshewe, wat deur die Sol Plaatje-munisipaliteit se toerismekantoor aangebied is, uitgevind.

Die besoek is deur ’n plaaslike toergids, Samantha Alfonse, gelei.

) Galeshewe:

Die township, wat voorheen “Nommer Twee-lokasie” geheet het, is in 1878 tot stand gebring nadat diamante in 1871 op die nabygeleë Colesberg Kopje ontdek is, wat uiteindelik die Groot Gat geword het.

Dié ontdekking het Kimberley se Diamantstormloop tot gevolg gehad.

In 1952 is Nommer Twee-lokasie na Kgosi Galeshewe (1835-1924), hoofman van die Batlhaping-stam en anti-koloniale vryheidsvegter, hernoem.

Galeshewe is bekend daarvoor dat hy teen die Britse koloniale regering opgestaan het en die Phokwane-rebellie in 1870 naby Kimberley gelei het.

Die rebellie het ontstaan toe ’n boer 17 stuks vee van die Batlhaping-stam geskiet het omdat die diere op sy grond gewei het. Die boer se verweer was dat hy die vee van kant gemaak het omdat hulle runderpes en ander siektes gedra het.

Nadat die Batlhaping-stam die boer hof toe gevat het, maar die saak verloor het, het die Phokwane-rebellie gevolg.

Galeshewe is tydens die rebellie gevang en tot 12 jaar tronkstraf vir sy aandeel in die opstand gevonnis.

Nadat hy vrygelaat is, het hy ook die Langeberg-rebellie gelei, waarna hy weer gevang is en tot tronkstraf gevonnis is.

Nadat hy ontsnap het, is hy tot tien jaar tronkstraf op die berugte Robbeneiland gevonnis.

Die Batlhaping-stam het uiteindelik meeste van hul grond onder die koloniale heerskappy verloor.

Volgens die 2011-sensus is Galeshewe die tuiste van sowat 100 000 mense.

) Muurskilderye:

Talle van die geboue in Galeshewe is vandag met kleurvolle muurskilderye verfraai wat geskiedkundige oomblikke uit die apartheidstryd uitbeeld.

Die mure van die Abantu-Batho-saal in Galeshewe beeld byvoorbeeld tonele uit die Mayibuye-opstand uit, terwyl die Ou Polisiekantoor in Galeshewe tonele uit die struggle-tydperk uitbeeld.

) Ou Polisiekantoor:

Talle vryheidsvegters is hier tydens die apartheidstryd aangehou. Hiervan getuig die woorde wat op die mure van die polisieselle uitgekerf is.

Vandag is dit ’n administratiewe gebou waar inwoners hul munisipale rekeninge kan betaal.

’n Skildery van die anti-apartheidsaktivis Phakamile Mabija, na wie Transvaalweg hernoem is, pronk ook teen die boonste gedeelte van die gebou. Mabija het in 1977 in aanhouding in die Transvaalweg-polisiekantoor gesterf.

Hy is dood nadat hy by ’n venster op die sesde vloer van die gebou uitgeval het. Daar is tot vandag toe mense wat glo dat hy by die venster uitgestoot is.

) Abantu-Batho-saal:

Die saal, wat in 1932 gebou is, het ’n sentrale rol in die gemeenskap se verset teen apartheid gespeel.

Politieke vergaderings is in die 1950’s en 1960’s hier gehou. Baie prominente leiers het vergaderings in hierdie saal toegespreek.

Sol Plaatje het ook op 24 Mei 1932 sy laaste openbare vergadering in hierdie saal toegespreek.

Die laaste protesvergadering hier is in 1990 gehou nadat inwoners se elektrisiteit en water afgesny is. Studente is op hierdie byeenkoms met traangas uiteengejaag.

  • Lees volgende week meer oor Galeshewe se historiese skatte.
  • Samantha Alfonse is ’n plaaslike toergids wat in township-toere spesialiseer. Bel Alfonse by 076-116-6121 of stuur ’n e-pos aan dsj.alfonse@gmail.com.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.