Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Parkrun bring jonk, oud saam

Hulle sê somerlywe word in die winter gemaak, maar vir diegene wat die winter ’n bietjie laat slap lê het, is nóú die tyd om daardie wintervetjies te laat wegsmelt en jou lyf vir die somer reg te ruk.

Met die lente wat aangebreek het en temperature wat geleidelik warmer word, kom Kimberley se gemeenskap ook nou stadig maar seker uit hibernasie gekruip en word meer mense by die weeklikse Kimberley-parkrun verwag.

Die gewilde weeklikse 5 km-wedloop vind Saterdae om 07:00 in die Rooifontein-natuurreservaat, langs die R64 na Boshof plaas.

Volgens Hermien Lamprecht, een van die organiseerders van die parkrun, is dit gratis om deel te neem en jonk en oud, vinnig en stadig. is welkom.

Lamprecht sê: “Paul Sinton-Hewitt, die stigter van parkrun, het een keer gesê die idee agter parkrun was om dit so inklusief as moontlik te maak.

“Dit is veronderstel om mense aan te moedig en te ondersteun en om struikelblokke wat hulle verhoed om aktief te wees uit die weg te ruim. Dit is presies waarna Kimberley-parkrun ook streef.

“By die parkrun spoor vreemdelinge mekaar aan om hul beste te doen. Dit is ook ’n plek waar vreemdelinge vriende raak.

“Hoe fiks of onfiks jy is, tel nie teen jou nie. Of jy 90 of 4 jaar oud is, jy is welkom. Daar is geen afsnytyd nie en parkrun verander lewens,” sê sy.

“Van die Kimberley-parkrun se deelnemers het hier begin en later besluit om deel te neem aan 10 km-wedlope, halfmarathons, marathons en van hulle het selfs die Comrades-marathon aangepak.”

Die eerste Kimberley-parkrun wat op 23 Maart 2015 met net 157 drawwers en stappers begin is, het die afgelope paar jaar aansienlik gegroei met onlangse parkruns wat meer as 400 mense getrek het.

Vanweë die gewildheid van parkrun is daar sedert 25 November 2017 ook ’n parkrun in Jacobsdal met Christiana wat op 21 Julie vanjaar ook ’n parkrun bygekry het. Saterdag (15/09) sal die Kimberley-parkrun vir die 185ste keer gehou word.

Die Kimberley-parkrun begin stiptelik om 07:00 naby die hoofingang na die wildsplaas en volg die hoofgrondpad na die plaas.

Ná 2,5 km bereik deelnemers ’n omdraaipunt waarna hulle dieselfde roete terug volg.

Genoeg veilige parkeerplek is beskikbaar. Deelnemers moet hulle eenmalig by http://www.parkrun.co.za/register registreer.

Tye word weekliks op die webtuiste gepubliseer. Daar is ook gewoonlik ’n fotograaf wat jou afneem terwyl jy hardloop, so maak seker jy sit jou beste voetjie voor.

Deelnemers word ook vir mylpale beloon, soos wanneer hulle 50 parkruns of ’n 100 parkruns voltooi en vrywilligers word ook beloon vir die kere wat hulle help om die parkrun aan te bied.

Ongelukkig word kinders op fietse en honde nie toegelaat nie, maar peuters en babas in stootwaentjies sowel as gestremde persone in rolstoele is welkom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.