Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ramaphosa verbind hom tot werkskepping in Noord-Kaap

Die onthullings by die verskillende kommissies van ondersoek na onder meer staatskaping “is erg, maar die waarheid moet uitkom”, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Hy het Saterdag (02/02) as ANC-president by die bekend­stelling van sy party se verkiesingsmanifes en viering van die party se 107de bestaansjaar in Galeshewe, Kimberley, gepraat en ook gesê mense moenie bang wees oor al die onthullings nie.

“Die waarheid maak ’n mens vry en sterk. Ons besef dit (korrupsie) mag nooit, nooit weer gebeur nie.

“Diegene wat daarby betrokke was, is welkom om na vore te kom en hul kennis te deel.”

Hy het ook gesê die ANC erken sy foute.

“Hoewel baie sedert 1994 vermag is, was die verandering te stadig. Ons het nabetragting gehou en dit het ons met nuwe ywer gevul.

“Daar is ’n gees van vernuwing sedert die ANC-verkiesing by Nasrec meer as ’n jaar gelede. Dit is hoekom ons deur die Thuma Mina-veldtog na die mense uitreik. Ons luister, want ons wil weet hoe ons saam vorentoe moet gaan.”

Die Noord-Kaap is ’n arm provinsie waarin werkloosheid hoogty vier.

“Ek het myself daartoe verbind om armoede deur werkskepping in die Noord-Kaap te verlig. Ek het nasionale en internasionale beleggers genooi om te belê, veral in Noord-Kaapse minerale hulpbronne, son- en windenergie, asook tegnologie. Die SKA-projek is ’n fantastiese geleentheid om jong mense op te lei in tegnologie, wat robottegnologie en sterrekunde insluit.”

Hy nooi matriekleerlinge om by die Sol Plaatje-Universiteit (SPU) in Kimberley te studeer.

“Klein en medium ondernemings in swart besit lê my na aan die hart. Die ANC wil soveel as moontlik hulpsentra in stede en dorpe inrig om mense se handelsvaardighede te verbeter. Die monopolieë moet geknak word. Die staat moet ’n derde van sy aankope by klein en medium ondernemings in swart besit doen.”

Een van sy planne om die ekonomie te steun, is om beleggers te nooi om fabrieke en myne te bou. Landbou moet gestimuleer word en jong boere moet opgelei word om grond te bewerk.

Sy belofte om huishoudelike geweld, dwelmmisbruik en bendes uit te wis, het groot applous ontlok, selfs luider as sy belofte om grond te onteien en aan mense terug te gee.

Hy sê die ANC moet terugkeer na sy etiese waardes en moet daaraan werk om ’n gelyke, nie-seksistiese en veelrassige samelewing te laat gedy.

“Ons moet in nederige diens van die burgers wees en hul guns só wen. Daar sal nie meer arrogansie wees nie.

“Ons wil die land transformeer, groei en ontwikkel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.