
CP Mathewson is die manswenner in die Kimberley-subdistrik se enkelspelkompetisie. Van links is ET Mathewson (vierde), Justin Griffith (derde), CP (eerste) en Clint Kneen (tweede).foto’s: Verskaf

Annelie Mathewson (links) is die vrouewenner van die Kimberley-subdistrik se enkelspelkompetisie. By haar is Dafne Minopetros (tweede).

Nog plekwenners in die vroue-afdeling is Cherese van der Merwe (links, derde plek) en Michele van Zyl (vierde). Dit was Cherese se eerste wedstryd.
Rolbalbane was die afgelope twee naweke bedrywig met die mans- en vroue-enkelspelkompetisie van die Kimberley-subdistrik wat plaasgevind het.
Die mans het by die Beaconsfieldpark-rolbalklub deelgeneem, terwyl die vroue by die Kimberley-dorp-rolbalklub meegeding het.
Die komende naweek kom die 16 topmans- en vrouespelers van oor die hele Noord-Kaap heen in Kimberley byeen.
Die vrouekompetisie sal weer by die Kimberley-dorp-rolbalklub plaasvind, en die manskompetisie by die Beaconsfieldpark-klub.
Die Noord-Kaapse mans- en vrouekampioen word Sondag (24/01) aangewys.
Noord-Kaap-rolbal bestaan uit vier distrikte wat elkeen ten minste vier rolbalklubs per streek verteenwoordig.
Benewens die klubs in Kimberley het die Kalahari-distrik klubs in Upington, Prieska, Lime Acres en Kathu, terwyl die Conroy-distrik klubs in De Aar, Victoria-Wes, Vanderkloof en Britstown het. Die Intervaal-distrik het klubs in Schweizer-Reneke, Hartswater, Jan Kempdorp en Warrenton.
Met die Covid-19-pandemie in ag geneem, voldoen die klubs en die byeenkomste aan al die vereistes soos deur die regering en Rolbal Suid-Afrika voorgeskryf.
Enkel- en parespel mag plaasvind, met nie meer as 24 spelers per baan nie.
Sosiale afstand word gehandhaaf, maskers is verpligtend op die baan en geen toeskouers word toegelaat nie.