Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Rommel pootjie beeldpoetsers

Hope vullis, wat onwettig op bykans enige oop gebied in Kimberley gestort word, kan die ideale van die Noord-Kaapse LUR vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Maruping Lekwene, ernstig pootjie indien daar nie daadwerklik teen rommelstrooiers opgetree word nie.

Die roete van die historiese trem, wat vroeër tussen die Groot Gat en die Stadsaal gery het, is juis weens rommel, openbare urinering en die gebrek aan instandhouding van infrastruktuur verkort.

Die onlangse o.19-Wêreldbekerkriekettoernooi het weer ’n aanduiding van Kimberley se toerisme potensiaal gegee, en in ’n verklaring het Maruping gesê hy glo dat die toernooi, wat oor die wêreld heen gebeeldsend is, tot ekonomiese voordeel vir die provinsie sal wees deur mense na Kimberley te trek, met ’n ekonomiese voordeel vir die provinsie.

’n Inwoner, wat verkies om anoniem te bly en wat in die gebied aangrensend met die Kimberley-mynmuseum en die Groot Gat woon, is raadop met die hope rommel in die oop gebiede aan weerskante van St. Augustines-straat in Wes-Einde.

Rommel word in vragte daar gestort – van omhulsels waaruit koperkabels waarskynlik verwyder is, tot bou- en huishoudelike rommel, dooie diere en tuinvullis.

“Benewens die feit dat die ligter rommel oral rondwaai, bring dit ook rotte, slange en stank na die gebied,” sê hy.

Volgens hom vergaan bourommel nie en sal dit deur die Sol Plaatje-munisipaliteit verwyder moet word.

Die bome – meestal indringer suidwesdoring – bied boonop koelte en slaapplek vir haweloses.

Hoewel van die rommel soms op hope gestoot word, word dit nie gereeld verwyder nie – en die morsjorse hou net aan om rommel in vragte aan te ry.

Die inwoner verwys na talle voertuie as “gereelde kliënte” wat rommel in hope stort, pleks van by die stortings­terrein.

Ook ’n vrou wat in die omgewing van Ellis- en Floorsstraat bly, vertel van mense wat gereeld rommel in dié gebied stort.

’n Inwoner beveel aan dat die munisipaliteit kennisgewingborde moet aanbring wat aandui dat dit nie ’n stortingsterrein is nie.

Die paaie na die oop gebiede kan ook deur ’n sloot of wal versper word.

“Die munisipaliteit kan baie geld met boetes maak, want rommelstrooi is ’n oortreding van munisipale wette,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.