Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
SA kenners opSri Lankana se spoor

’n Suid-Afrikaanse kenner van stoomlokomotiewe wat onlangs in Sri Lanka was om stoomtrein­drywers daar op te lei, sê die Sri Lankane koester hul koloniale stoomtrein-erfenis.

Peter Odell (70) van Kimberley en Peter Labuschagne (80) van Pretoria was deel van ’n span oorsese kenners wat deur ’n Duitse toeroperateur versoek is om stoomlokomotiewe op te knap en drywers en vakmanne daar op te lei.

Hulle was in Maart vanjaar in Colombo, die hoofstad, enkele weke voor die bomaanvalle waarin minstens 359 mense volgens Reuters dood is.

Odell sê hy is “diep geskok” oor die bomaanvalle.

“Dit ’n vreedsame, rustige land met eerlike en opregte mense.

“Boonop koester en bewaar die regering van Sri Lanka hul koloniale verlede en erfenis. Hulle doen moeite om die stoomlokomotiewe te bewaar om toerisme te bevorder. Dit verskaf heelwat werks­geleenthede.”

Hy betreur die feit dat die Suid-Afrikaanse regering nie dieselfde ingesteldheid het nie.

“Die Sri Lankane is fluks en gewillig om te leer. Daar is byna geen werkloosheid nie, en ek het geen krothuise gesien nie.”

Die oogmerk van die projek is om stoomlokomotiewe doel­treffender te maak sodat toeriste se vakansies glad verloop. Sri Lanka steun swaar op toerisme as ’n bron van inkomste, sê hy.

Odell moes drywers, stokers en werkspanne wat die lokomotiewe moet voorberei, stook en bestuur, oplei, en hul werkswyses verbeter. Labuschagne is ’n passer en draaier wat gehelp het om kleppe, boute en suiers te vervaardig.

“Baie onderdele en gereedskap is net daar in die werkswinkel, waar sowat 2 800 mense werk, vervaardig. Ons kon egter nie alles maak nie, want die gietyster was soms te porieus,” sê Labuschagne.

Odell sê hy moes een dag ure bestee om ’n stoomketel te help skoonmaak.

“Sri Lanka se spoorwydte van 1,7 meter (5,6 voet) is van die breedste ter wêreld. Dit is so groot dat ons met gemak onder die lokomotiewe kon inklim, anders as in Suid-Afrika waar die spoorwydte 1 meter (3,2 voet) is. Die groter wydte in Sri Lanka gee glo beter stabiliteit aan treine in swak weersomstandighede, soos siklone.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring vir ons.”

Sanath Wickramaratne, ’n hidrouliese ingenieur van Sri Lanka, het Odell in ’n brief bedank.

“Jul kennis en ervaring van stoomlokomotiewe is merkwaardig. Julle is ’n waardevolle bate vir Suid-Afrika en die res van die wêreld,” lui die brief.

“Ons wil ons stoomlokomotief-erfenis bewaar vir die volgende geslagte. Sri Lanka is nie so ’n ryk land soos Suid-Afrika nie, maar ons regering en private maatskappye help ons om die erfenis te bewaar. Die regering gee selfs belasting­verligting aan dié private maat­skappye.”

Sri Lanka se regering koester en bewaar hul koloniale verlede en erfenis. Hulle doen moeite om die stoomlokomotiewe te bewaar om toerisme te bevorder. – Peter Odell

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.