Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sesde sege in Mokala-ren

’n Polisieman van Kimberley, wat onder veldwagters by die Mokala- Nasionale Park as “Vinnige Fanie” bekend staan, het die sesde agtereenvolgende jaar die Mokala MTB Classic-bergfietsren oorheers.

Ao. Bennie Coetzer (53), ’n hofordonnans wat bedags by die Noord-Kaapse landdroshof werk, het die 80 km-bergfietsren Saterdag (01/06) in die nasionale park buite Kimberley gewen, asook die tegniese 33 km-bergfietsren Sondag (02/06).

Die bergfietsren word jaarliks deur die Diamantveld-streek se Sanparke-ereveldwagters gehou om geld ten bate van natuurbewaring en die park in te samel.

Coetzer het ook die wedren in 2013, 2014, 2016, 2017, 2018 gewen. (In 2015 was daar nie ’n ren nie.)

Hoewel Coetzer vanjaar sy naaste teenstander, Werner Pretorius (40), naelskraap in ’n naelrit oor die laaste 100 m uitoorlê het, het hy die tegniese rit oor 33 km maklik gewen.

“Ek is werklik geseënd om vanjaar my sesde Mokala-bergren te kon wen.

“Baie goed kan langs die pad met jou gebeur; jou fiets kan meganiese probleme opdoen . . . jy kan jou bande op skerp klippe sny . . . jy kan val. Dit is net genade dat ek die afgelope ses keer kon wen,” sê Coetzer met dankbaarheid.

Volgens Coetzer was die roete vanjaar effens moeiliker as vorige jare weens swaar reënval en roetes wat verspoel het.

“Die ereveldwagters het nogtans hul bes probeer om die roete te verbeter deur gate met sand te vul. Hulle kon egter natuurlik nie oral uitkom nie.”

Sy wentyd vir die 80 km-ren was ongeveer 2 uur en 21 minute, terwyl sy wentyd vir die tegniese 33 km-wedren ongeveer 1 uur en 13 minute was.

Dié fikse polisieman sê hy het die afgelope tyd daaraan gedink om uit fietsry uit te tree, maar is nog nie seker of dit al sulke tyd is nie.

“Hulle het die ander dag met ons mense in die polisiediens kom praat oor die voordele van vervroegde aftrede, maar ek kan nie nou al aftree nie!

“Ek is nog heeltemal te fiks daarvoor!” skerts hy.

Coetzer, waarskynlik een van die fiksste polisiemanne in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, meen sy fietsry help hom ook om sy werk beter te doen.

“As ’n polisiebeampte moet ek gereeld vuurwapen-vaardigheidstoetse en fiksheidstoetste aflê. Die fietsry help beslis met die fiksheid,” vertel hy.

Voordat sy fietsryloopbaan posgevat het, was Coetzer tussen 1988 en 1994 ook ’n kranige rugbyspeler.

Hy het ’n allemintige 85 wedstryde vir Griekwas as linkervleuel uitgedraf.

In 1992 het hy naas Cabous van der Westhuizen die meeste drieë in Suid-Afrika gedruk. Hy het in 1999 padfiets begin ry nadat hy ’n kniebesering opgedoen het.

Hy is gekies om Suid-Afrika se polisie op die wêreldkampioenskap vir polisie en brandweer in New York te verteenwoordig. Maar kort voordat hy oorsee sou vertrek, het hy geval en sy heup beseer.

Die ernstige besering het Coetzer vir ses maande buite aksie gelaat.

In 2012 het hy egter weer opgesaal en weer begin fietsry.

“Een oggend om 00:30 het die Here met my gepraat.

“Hy het vir my gesê ek moet die padfiets los en vir my ’n bergfiets kry,” sê Coetzer.

Van daar het sy fietsryloopbaan van krag tot krag gegaan.

“Ek het so goed gevaar dat hulle my in 2014 by ’n bergfietsren in Gauteng getoets het vir steroïede omdat hulle nie kon glo dat ’n ou van my ouderdom so kan fietsry nie,” sê Coetzer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.