Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Seun sit prof. Rasa se werk voort
Richard Rasa-Phillips, nuwe eienaar van die Kalahari Trails-natuurreservaat, het ’n hart vir alle diere, klein of groot. Hier blaas hy ’n by droog wat hy uit een van die plaasdamme gered het.
Lavinia, die matriarg van die huidige meerkat-familie wat by die Kalahari Trails gerehabiliteer word, geniet ook die oggendson.
Meerkatte van een van die meerkat-families wat nog in die reservaat tuisgaan en nog nie gerehabiliteer is nie, bak in die oggendson. Inlas: Richard Rasa-Phillips, nuwe eienaar van die Kalahari Trails-natuurreservaat, het ’n hart vir diere, klein of groot. Hier blaas hy ’n by droog wat hy uit een van die plaasdamme gered het.Foto’s: Anena burger

‘Krrrr, krrrr, krrrr,” klink die geklets vroegoggend op van 11 woelige meerkatte op die werf van die private natuurreservaat Kalahari Trails in die hartjie van die Kalahari.

Dit is 06:00. Al is die lug nog vars, skyn die son skerp. Die reservaat se mense is al ’n uur lank druk aan die werk.

Die dae begin vroeg in dié ongenaakbare­ duineveld, waar die kwik teen 07:00 al by die 30 °C-merk druk.

By die reservaat se bakkie werskaf die nuwe eienaar van dié bekende veilige hawe vir meerkatte.

Richard Rasa-Phillips (56) het ná die dood van sy legendariese ma, prof. Anne Rasa, op 15 November die leisels oorgeneem om met haar werk vir die bewaring en rehabilitasie van meerkatte en ander kleinwild voort te gaan. Sy was as die Kalahari se “meerkat-ma” bekend.

Wêreldburger

Slegs sy swaar Britse aksent verklap sy andersheid.

Hy en sy twee susters, Teresa Rasa-Klein en Christina Penron Rasa, is in Honolulu, Hawaii, gebore. Daar het hul ma as deel van haar studie die aggressie in vis nagevors.

“Ek onthou nie veel van Hawaii nie. Nadat my ouers se huwelik verbrokkel het, het ons na Wallis verhuis,” sê Richard.

“Nadat haar huwelik verbrokkel het, het sy haarself ’n jaar lank in haar kamer afgesonder. Dit, asook die teleurstelling dat van die manlike akademici hul naam by haar navorsing wou voeg, het haar geknak. Sy was jonk en ’n enkelma wat vir drie klein kinders moes sorg. Gelukkig was ons grootouers ’n groot steun vir ons.”

Hy was sewe jaar oud toe Konrad Lorenz van die Max Planck-instituut in Seewiesen, Duitsland, sy ma gekontak het om haar studie en navorsing daar voort te sit.

Die gesin het na Duitsland verhuis, maar Richard het nie goed aangepas nie.

Hy was pal vir sy kattekwaad in die moeilikheid, soos die keer toe hy sowat 20 veldmuise gevang en op die skoolbus losgelaat het.

Nadat die skool hom vir die vrygeestige Richard vervies het, is besluit dat hy eerder by sy grootouers in Wallis moet gaan woon.

“Die beste ding wat met my kon gebeur, was om aan die Llandovery-kollege skool te gaan. Die dissipline was net wat ek nodig gehad het – en ek het ’n paar keer ses van die bestes ontvang,” sê Richard.

“Dit het my geleer om verantwoordelikheid vir my dade te aanvaar.”

Hy het in rugby uitgeblink en was ook die hoofseun van die skool. Tot sy ma se ontnugtering het hy hom ná skool by die Britse weermag aangesluit.

“Ek het toelating tot ’n paar universiteite gekry, maar om eerlik te wees dink ek nie universiteite is so goed nie. Jy het boekkennis, maar nie praktiese ondervinding nie. Baie mense is ontnugter nadat hulle universiteit verlaat en die werklikheid moet trotseer.”

Hy was meer as 10 jaar deel van die Corps of Royal Engineers.

Ná die weermag het hy die wêreld gaan verken en wyd gereis. As deel van sy werk as lyfwag het hy van 2004 tot 2006 in Irak gewerk.

In 2017 is hy as die ateljeebestuurder vir Netflix in Brittanje aangestel.

Hy het na die operasionele funksies van die ateljee omgesien, en ook as deel van die rolprentspanne aan verskeie rolprente gewerk.

In sy ma se spore

Sedert sy ma in 1999 die plaas gekoop het, het hy jaarliks besoek afgelê en so die Kalahari leer ken.

Dit is met sy besoek in Desember 2019 dat hy besef het dat sy ma so verswak het dat hy haar sal moet versorg.

Hy het sy werk by Netflix bedank en net voor die inperking na Suid-Afrika verhuis.

“Nee, dit was nie die plan nie. Ek wou eintlik ’n onderneming in Thailand begin, maar nou is ek hier en ek sal haar nalatenskap laat voortleef.”

Die veld is vrolik ná die goeie reëns en die bloedrooi reëngoggas krioel in die sand terwyl die witgatwitjie-skoenlappers soos sneeuvlokkies oral fladder.

“Dit is tye soos nou dat ek my ma en haar ongelooflike kennis van die Kalahari en sy wesens mis. Wanneer ek vrae het. Maar ek leer gou,” sê hy toe hy inloer by die drie meerkatte wat die vorige dag in die veld vrygelaat is.

“Hulle gaan oukei wees. Dit is soos dit moet wees en dit is wat ons hier doen. Om diere weer ’n normale en natuurlike lewe in die natuur te laat lei. Dit is my droom dat Kalahari Trails ook ’n leersentrum vir besoekers sal wees en ’n plek waar hulle die natuur kan kom geniet.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.