Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sielkundige se fiksie gegrond op ervarings

As ’n kliniese sielkundige vir seuns met gedragsprobleme wat by ’n nywerheidskool in die Vrystaat uitgeplaas is, het Stéfan Burger al met baie te doen gekry.

’n Mens kan sê hy het feitlik alles gesien: Van kinders met gedragsprobleme uit haglike omstandighede wat deur die hof na die Jimmie Roos-skool in Dewetsdorp uitgeplaas word, tot drosters wat uit die skool - in sy boek bekend as ‘Die Berg’ -probeer ontsnap en kinders wat verf uit plastieksakke snuif om “hoog te raak”.

Kinders by dié skool het selfs al ernstige dreigemente teen Burger se lewe gemaak.

Tog vertel Burger dat hy met daardie seuns vrede kon maak.

Ondanks al hierdie beproewings het dié skoolsielkundige ’n spesiale soort deernis en begrip vir die kinders met wie hy daagliks werk.

Hierdie deernis word duidelik in sy boek, My naam is Hoop, raakgelees.

Dié boek, waarvoor Burger drie jaar navorsing gedoen het maar slegs die afgelope ses maande aktief aan gewerk het, is onlangs bekend gestel.

Dit plaas die leser in die skoene van die seuns wat vir die een of ander rede na die Jimmie Roos-skool in Dewetsdorp gestuur is.

Hierdie kinders word dikwels misverstaan en deur die samelewing verwerp.

Tog is hulle maar net mense wat foute gemaak het – soos enige mens maar in ’n stadium doen.

“Die hoofkarakter is ’n tienerseun wat weens huislike omstandighede by moeilikheid betrokke raak en dan uiteindelik deur die hof na die Jimmie Roos-skool uitgeplaas word.

“Dit gaan oor die seun se reis; sy ervarings by die skool, die maats wat hy langs die pad maak, die moeilikheid wat hulle saam aanjaag, sy terapie en herstelproses, die verhouding met sy ouers en al die vreemde en wonderlike goed wat by die skool gebeur,” vertel Burger.

Burger was op Dinsdag 2 April by die Palette-teetuin by die William Humphreys-kunsgalery in Kimberley waar hy die boek bekend gestel het.

Die bekendstelling is in die vorm van ’n multimedia-stuk aangebied, wat voorlesings uit die boek en oorspronklike kunswerke in olieverf, akriel en steenkool ingesluit het.

Dié aanbieding is deur die boek en sy karakters geïnspireer.

Een van die kunswerke wat Burger met die skryf van die boek geskep het, verskyn op die omslag.

Die voorlesings is ook toegelig met oorspronklike liedjies wat met die storielyn verband hou.

Burger vertel hoe hy ’n kitaar ingespan het om kommunikasie met kinders van die Jimmie Roos-skool te vergemaklik en die ys te breek.

Dít is waarskynklik hoe talle van hierdie liedjies geskryf is.

Hoewel die boek fiktief is, meen Burger dit is tog sterk in die werklikheid gewortel.

In sy verskillende staaltjies oor die Jimmie Roos-skool vertel Burger onder meer van die 31 perskebome wat ’n mens op die pad na die skool sal aantref.

Talle kinders wat al probeer dros het, het volgens Burger perskes saam met hulle gevat as padkos.

Hulle het egter nie die kuns van rantsoenering heeltemal onder die knie gehad nie, en die voorraad het binne die eerste 20 km opgeraak.

Dit het tot gevolg gehad dat daar vandag perskebome langs die pad groei – omtrent 20 km van die skool af – waar die pitte laat val is.

Ander staaltjies sluit verhale oor kattekwaad en sokkiedanspartye, wat meestal onder streng bewaking gehou word, by die skool in.

My naam is Hoop kan by Burger bestel word.

Skakel hom by 072-473-1188, of besoek sy Facebook-blad vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.