Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Skitterdag sonder glans

Hoewel die verwagte getal ANC-ondersteuners nie Saterdag (11/01) hul opwagting by die ANC se 108ste verjaardagviering by Tafel Lager-park gemaak het nie, was die Diamantstad steeds ’n miernes van bedrywighede.

Volgens Sharon Steyn, bedryfshoof van die Noord-Kaapse Sakekamer (Nocci), het ondernemings wat verblyf verskaf, restaurante en vulstasies veral gebaat uit die duisende ondersteuners wat wel die stad besoek het. Steyn is wel teleurgesteld dat die organiseerders nie plaaslike kleinsake-ondernemings gebruik het vir die verskaffing van dienste of produkte nie.

Die nodigheid van die beweerde ongeveer R50 miljoen wat die verjaarsdagvieringe gekos het, met ’n verjaardagkoek van glo R127 000, word ook bevraagteken.

Voor die vieringe, vroeër in verlede week, het pres. Cyril Ramaphosa onder meer ’n besoek aan Colville gebring waar hy en sy gevolg slaggate en modderpoele moes systap. By een huis het hy etlike leë drankbottels in ’n vullisblik in een van die sinkhuise op ’n erf ontdek. Hy het dit opgetel en daarna verwys as “ ’n baie groot probleem”.

Een inwoner het gekla dat hulle 42 mense is wat in verskillende geboue op ’n erf bly. Hulle het nie werk nie, hul kinders benodig skoolklere en skryfbehoeftes en hul strate is vol slaggate. By nog ’n huis het inwoners gekla dat dwelmhandelaars nie vasgevat word nie en dat werklose jong mense dwelms gebruik omdat hulle verveeld en honger is.

Patrick Mabilo, burgemeester, het met ’n notaboek agter die president aangehardloop en aantekeninge gemaak van alles wat herstel moet word. Die president het aan Mabilo gesê die gebrek aan vullisverwydering is onaanvaarbaar, en vir hom gesê om die woongebied dringend skoon te maak.

Mabilo moes ook na ’n inwoner se kritiek oor die swak bestuur en onderhoud van die Homevale-rioolaanleg luister. Ongeag die opknapping daarvan agt jaar gelede, wat miljoene rande gekos het, is dit wanfunksioneel.

Oor Ramaphosa se toespraak van Saterdag berig Rapport dat ’n toespraak verwag was waarin hy die land in ’n sekere rigting stuur en die ANC met hom saamneem.

Volgens die berig sê prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, dat die uitkoms van die toespraak 180 grade in die teenoorgestelde rigting was. ’n Ander politieke ontleder, dr. Ralph Mathekga, meen die verdeeldheid in die ANC word al hoe groter en hy sê die ANC praat en trek in verskillende rigtings.

Nadat Kimberley weens dié verrigtinge nasionale en internasionale blootstelling ontvang het, sê Steyn talle mense het haar gebel en hul skok uitgespreek oor hoe vuil die stad geword het.

“Behalwe die ekonomiese inspuiting, was dit ook goed dat hooggeplaastes die stad besoek het om te sien hoe dit werklik lyk,” sê sy. Volgens haar is Kimberley ongeveer 16 jaar gelede as die skoonste stad van die jaar aangewys.

“Dit is die hoofstad van die Noord-Kaap,” sê sy. “Hoe vra jy beleggers om hulle hierheen te wend?”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.