Leerlinge in die kinderhuis op die Jannie Roux-kampus in Barkly-Wes het ’n groot behoefte aan skoolklere en skoolbenodigdhede.
Volgens Esté van der Merwe, bemarkingsbestuurder van die Caritas-gemeenskapsentrum, het die meeste van dié 85 kinders hul skoolklere ontgroei.
Weens verskeie faktore, soos ’n krimpende begroting en die impak van Covid-19, is dit ’n groot uitdaging om die nodige skoolklere in die hande te kry.
’n Behoefte bestaan aan skoolklere vir seuns en meisies aan die Hoërskool Vaalrivier, Laerskool Pniel-landgoed, Laerskool Barkly-Wes en die Hoërskool Barkly-Wes.
Benodigdhede sluit skoolskoene, wit en grys sokkies, wit en blou kort- en langmou-skoolhemde, grys langbroeke, vlootblou en swart skooltruie, vlootblou en swart windjekkers, skooltasse en skryfbehoeftes in. Tweedehandse skoolklere is ook welkom.
Skenkings kan by die kinderhuis by Heberdenstraat 2, Barkly-Wes, of in Kimberley by Caritas se kantoor by Lawsonstraat 72, Labram, afgelewer word.
Bel Lucinda Coetzee by 083-407-8172 of Van der Merwe by 082-572-3900, of kontak die kampus direk by 053-531-0050.