Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Slagoffers‘het erg gely’

Johannes Baaitjie, DA-raadslid, en sy vennoot, Jeffrey “Snuping” Nouse, wat vier jaar gelede hoopvol was oor wat ’n lonende boukontrak kon wees, is weens die vyf beskuldigdes se gierigheid in ’n lokval na Postmasburg getrek en koelbloedig tereggestel.

Die slagoffers moes erg gely het voordat hulle dood is.

Só het adv. Hannes Cloete Donderdag (25/06) namens die staat ter strafverswaring in die hooggeregshof in Kimberley teen die vyf beskuldigdes, waaronder ANC-hooggeplaastes, betoog. Volgens hom verdien elkeen van hulle ’n lewenslange vonnis, juis omdat die moorde vooraf deeglik beplan is.

Zonizelo (Zet) Magawu, ’n gewese ANC-takvoorsitter van Daniëlskuil, is in Mei vanjaar saam met Richard Hasane, Tshame Frank Baxane, Thompson Mncedisi Mphondosima en Matthews Legodu, ’n senior ANC-lid in die streek, skuldig bevind aan die moorde op Baaitjie en Nouse.

Die slagoffers is kort ná die munisipale verkiesing in 2016 doodgeskiet. Baaitjie se lyk is op 17 Augustus 2016 langs die pad tussen Daniëlskuil en Postmasburg aangetref. Nouse is later in die hospitaal dood nadat hy in Postmasburg in Baaitjie se bakkie gewond gevind is.

Cloete het aangevoer Magawu en Legodu het die teregstelling deeglik beplan en selfs vervoer, ’n vuurwapen en twee skieters gereël.

Baaitjie se dood sou ’n tussenverkiesing afdwing wat die moordenaars gehoop het die ANC sou wen. ’n ANC-burgemeester sou dan lonende tenders aan hulle toegeken het.

Volgens Cloete was Nouse so opgewonde oor die plaveiselkontrak dat hy dokumente saamgeneem het om sy ondervinding te bewys. Hy is buite die bakkie geskiet, maar kon in die voertuig terugklim. Weens die aard van sy besering kon hy nie hulp ontbied nie. Hy het die hele nag alleen deurgebring totdat hy die volgende oggend gevind is.

Baaitjie is van agter bekruip, maar die vuurwapen het gestaak, waarna hy gewelddadig in die wegkommotor se bagasiebak gegooi is. Hy is eers in die bagasiebak geskiet, daar uitgehaal en toe langs die pad van agter tereggestel. Volgens die staat is die kans op rehabilitasie min omdat die veroordeeldes steeds skuld ontken.

Die verdediging het aangevoer daar is wesenlike en dwingende omstandighede wat die regter kan noop om van die voorgeskrewe lewenslange vonnis af te wyk. Die beskuldigdes, almal eerste oortreders, was almal broodwinners en is reeds drie jaar en nege maande in aanhouding. Hul ontkenning van die moorde beteken nie dat hulle onrehabiliteerbaar is nie, meen die verdediging.

Regterpresident Pule Tlaletsi lewer sy vonnisuitspraak op 21 Augustus.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.