Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sluit by die parkrun-beweg

Hulle sê somerlywe word in die winter gemaak, maar vir diegene wat die winter bietjie slap gelê het is nóú die tyd om daai wintervetjies weg te smelt en weer jou ou lyf reg te ruk vir die somer.

Met die lente wat aangebreek het en temperature wat geleidelik warmer word kom Kimberley se gemeenskap ook nou stadig maar seker uit hibernasie gekruip en word meer mense by die weeklikse Kimberley-parkrun verwag.

Die gewilde weeklikse 5km wedloop vind Saterdagoggende om 07:00 in die Rooifontein-natuurreservaat, langs die R64 na Boshof plaas.

Volgens Hermien Lamprecht, een van die organiseerders van die weeklikse parkrun, is parkrun heeltemal verniet en vir almal: jonk en oud, vinnig en stadig.

Terwyl olimpiese atlete die roete in net oor 15 minute kafdraf is dit ook vir stappers en drawwers wat langer as ’n uur neem om die 5km te voltooi.

Lamprecht sê: “Paul Sinton-Hewitt, die stigter van parkrun, het eenkeer gesê die idee agter parkrun was om dit so inklusief as moontlik te maak.

“Dit is veronderstel om mense aan te moedig en te ondersteun en om struikelblokke wat mense verhoed om aktief te wees uit die weg te ruim. Dit is presies waarna Kimberley parkrun ook streef.

“By die parkrun spoor vreemdelinge mekaar aan om hul beste te gee. Dit is ook ‘n plek waar vreemdelinge vriende raak. Parkrun is regtig vir almal, ongeag jou ouderdom of gewig.

“Hoe fiks of onfiks jy is tel nie teen jou nie. Of jy 90 jaar of 4 jaar oud is, jy is welkom. Daar is geen afsny tyd nie en parkrun verander lewens,” verduidelik sy.

“Van Kimberley parkrun se deelnemers het hier begin en later besluit om deel te neem aan 10km wedlope, half marathons, marathons en van hulle het selfs die Comrades marathon aangepak.”

Die eerste Kimberley-parkrun wat op 23 Maart 2015 met slegs 157 drawwers en stappers begin is het die afgelope paar jaar aansienlik gegroei met onlangse parkruns wat meer as 400 mense gelok het.

Vanweë die gewildheid van parkrun is daar sedert 25 November 2017 ook ’n parkrun in Jacobsdal met Christiana wat op 21 Julie vanjaar ook ’n parkrun bygekry het.

Op Saterdag (15/09) sal Kimberley-parkrun vir die 185ste keer gehou word.

Die Kimberley-parkrun begin stiptelik om 07:00 naby die hoofingang na die wildsplaas en volg die hoofgrondpad na die plaas. Na 2,5 km bereik deelnemers ’n omdraaipunt waarna hulle dieselfde roete terug volg.

Genoeg veilige parkeerplek is beskikbaar. Deelname is gratis, maar deelnemers moet hulle eenmalig by http://www.parkrun.co.za/register/ registreer.

Tye word weekliks op die webtuiste gepubliseer. Daar is ook gewoonlik ’n fotograaf wat jou afneem terwyl jy hardloop, so maak seker om jou beste voetjie voor te sit.

Deelnemers word ook vir spesiale mylpale beloon, soos wanneer hulle 50 parkruns of ’n 100 parkruns voltooi en vrywilligers word ook beloon vir die kere wat hulle help om die parkrun aan te bied.

Ongelukkig word honde en kinders op fietse nie toegelaat nie, maar peuters en babas in stootwaentjies sowel as gestremde persone in rol stoele is baie welkom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.