Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sporttalent geslyp

Toe die nasionale inperking in Maart afgekondig is, was Hardus van der Merwe (15) topfiks en gereed vir die Suid-Afrikaanse (SA) kampioenskappe waarvoor hy gekwalifiseer het.

Dié gr. 9-koshuisleerling aan die Hoërskool Diamantveld, wat van ’n plaas in die Modderrivier-omgewing kom, vertel dat “laat opstaan en niks doen gou die norm geword het toe die inperking begin het”.

“Soos die tyd verbygegaan het, het ek besef as ek nie nou iets doen nie gaan ek al my harde werk verloor,” vertel Hardus. “En so het die stryd begin om weer ernstig te oefen, hoewel nie vir ’n spesifieke kompetisie nie.”

Hardus beoefen hoofsaaklik hardloop en swem, asook laser-wedlope waarmee hy in Desember begin het. Hy het op 8 Maart aan die nasionale Laser-wedloopkampioenskapsbyeenkoms in Bloemfontein deelgeneem en agtste geëindig. Laser-wedlope val onder die Olimpiese sport moderne vyfkamp en sluit twee van die vyf dissiplines, hardloop en laserskiet, in.

Boonop het hy kwalifiseer om op 21 Maart in Oudtshoorn aan SA’s in tweekamp deel te neem, en ook aan SA’s in biathle en triathle wat in Junie in Nelspruit sou plaasvind. In 2016 was Hardus die SA-tweekampkampioen en het Suid-Afrika in 2019 in die VSA in biathle verteenwoordig nadat hy tweede in Suid-Afrika geëindig het.

Hy vertel dat hy vir homself doelwitte gestel het deur druk op homself te plaas, soos om sy persoonlike beste tyd vir 1 km, 5 km en 10 km te bereik.

“Ek het nuwe goed begin leer en bly positief. Ek probeer om die perfekte roetine te ontwikkel om elke dag voluit te leef,” vertel hy.

So het hy geleer hoe om ’n Garmin-app te gebruik en handhaaf ’n gesonde roetine van vroeg gaan slaap en opstaan, terwyl hy gebalanseerde maaltye eet.

“Jy weet nooit wanneer ’n geleentheid opdaag nie; so bly altyd gereed,” sê hy.

Hy en sy sussie, Frances (18), ’n matriekleerling aan Diamantveld, het begin om ’n strawwe oefenprogram van David Abdelmalak en Mahmoud Elnaggar, twee afrigters van Egipte wat in Bloemfontein bly, vir vyf dae van die week op die plaas te volg waarin hoofsaaklik hardloop en laserskiet beoefen word. Hulle oefen soms selfs in die aand met koplampe. Boonop volg hulle twee maal per week hul biokinetikus se program.

Hanru en Jannes Krause, twee van Hardus se vriende van die omgewing, het saam met hom aan die Laser-wedloopkampioenskappe deelgeneem en kry ook afrigting by Abdelmalak en Elnaggar. Die Krause-broers was juis besig om vir die wêreldbyeenkoms in Duitsland voor te berei toe die inperking afgekondig is. Saam met Hardus oefen hulle nou ook virtueel of op die plaas tussen die pekanneutbome, ongeag sekerheid van ’n volgende byeenkoms.

Die David Abdelmalak-skool is ongeveer twee jaar gelede in Bloemfontein deur Abdelmalak gestig en Elnaggar het hom in September by Abdelmalak aangesluit. Dié twee professionele afrigters rig talle sportsoorte, onder meer moderne vyfkamp, laserwedlope, biathle, triathle en skerm onder die vaandel van die wêreldbeheerliggaam van moderne vyfkamp (UIPM) en skermfederasies aan.

Ná ’n eerste suksesvolle kamp in Bloemfontein het ongeveer 30 atlete hulle by die skool aangesluit. Die Covid-19 pandemie het nuwe uitdagings gebring. Abdelmalak sê die atlete is ’n hegte groep wat hul weeklikse samesyn mis, en aanlyn-oefensessies en video-oproepe het die norm geword.

“Met die aanlyn-oefensessies verwag ons verantwoordelikheid, motivering en moeite, nie net om ’n gevoel van aanspreeklikheid te behou nie, maar ook om die atlete te herinner dat hulle nie alleen is tydens die inperking nie,” sê hy.

Hy vertel elke sportsoort het ’n WhatsApp-groep wat daagliks ’n roetine kry om te voltooi, met ’n video of foto as bewys.

Hy sê die jong atlete leer harde werk en deursettingsvermoë wat in alle fases van die lewe nodig is.

Boonop ontwikkel nuwe tegnieke, met hand-oog-koördinasie, fiksheid, algemene gesondheid en uithouvermoë wat verbeter.

Die blootstelling van jong atlete aan SA-atlete wat aan wêreldkampioenskappe deelgeneem het, is van onskatbare waarde, én sosiale vaardighede en kommunikasie verbeter, sê Abdelmalak.

Hardus van der Merwe twee jaar gelede tydens die RuntheBerg-veldwedloop in die Drakensberge. Hoewel hy toe net 13 jaar oud was, was hy die vyfde man in die 13 km- en 18 km-afstande vir albei dae. Foto: Verskaf
Hardus van der Merwe (15)Foto: Verskaf
Hardus van der Merwe (15)Foto: Verskaf

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.