Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Stories het positiewe invloed
Eric Kok, skrywer van Kimberley, met AfriCAN Authors’ Award-eerbewys wat hy onlangs ontvang het.Foto: verskaf

Deur onvolmaakte karakters dra Eric Rinus Kok, skrywer van Kimberley, se stories elk ’n boodskap oor.

Die 31-jarige Kok is veral in Kimberley en omstreke vir sy Facebook-blad, Roodepan Stories, bekend. Dié blad het meer as 13 000 volgelinge.

Kok, wat in 2013 sy heel eerste storie, “Albert”, geskryf het, het onlangs ’n AfriCAN Authors’ Award-eerbewys ontvang.

Dié eerbewys van AfriCAN Your Time Is Now is in 2018 deur die bekroonde entrepreneur, skrywer en motiveringspreker Anthea Thyssen-Ambursley gestig.

Die eerbewyse is op plaaslike skrywers, jonk en oud, gemik.

Dit is vir merkwaardige mense in ’n gemeenskap – gewone mense wat ’n verskil maak en ander begeester om moontlikhede aan te pak en die beste weergawe van hulself te word.

Dra ’n boodskap

“Mense vra my waar ek aan my stories kom. Soms is dit genoeg om net na ’n gesprek te luister, dan spring die storie in my kop in,” vertel Kok.

“My stories is nie op ware gebeure gegrond nie en is dikwels vergesog, maar ek spreek ook daardeur kwessies in die gemeenskap aan, soos die slaggate in Roodepan en die probleme wat ons dikwels met water ervaar.”

Om stories te vertel is sy passie, en hy dis hulle in bykans enige vorm op.

“Skryf is vir my ’n manier om te ontsnap. Om my stories met ander te deel is ook vir my baie lekker,” vertel hy.

“My heel eerste stories was op vermaak en humor gefokus, maar ek het na kortverhale oorgeslaan. Elkeen dra ’n boodskap deur onvolmaakte karakters wat soms op ’n reis gaan om hulself te vind of om ’n boodskap te gee.”

Sy heel eerste kortverhaal het juis gehandel oor ’n jong seun, Albert, wat vrede moes maak met die feit dat sy pa eendag uitgestap en nooit weer teruggekeer het nie.

Vir Kok, wat in Roodepan gebore en grootgeword het, kom stories ’n ver pad.

“Van laerskooldae af was ek daardie outjie wat pouses met ’n boek gesit het. My vriende het my altyd geterg. Met opstelle skryf, het ek baie min gesukkel. Ek is baie bly vir dit, want hier skryf ek nou my eie stories.”

Die idee van ’n Facebook-blad het by sy suster ontstaan.

“Voorheen het ek altyd stories mondelings aan my familie en vriende vertel.”

Lesers van sy stories op die Facebook-blad lewer graag kommentaar oor wat in ’n spesifieke episode gebeur het en vra soms uit na karakters en wonder wat volgende gaan gebeur.

Maak ’n positiewe verskil

Kok sê sy hart bloei om ’n positiewe verskil in sy gemeenskap te maak.

“Hetsy dit deur my eie werk is of deur iemand, veral die jeug, te bemoedig – ek wil graag sien dat Roodepan as ’n gemeenskap saam dinge doen wat ’n positiewe impak maak. Daar is soveel potensiaal.”

Kok is reeds jare lank in die gemeenskap betrokke, veral met jeugprojekte.

“Ek het in 2012 ’n dramagroep gestig waar ons kort video’s verfilm.

“In 2014 het ek Projek Sk8 begin nadat ek ’n groep passievolle jong mense van Roodepan ontmoet het wat skaatsplank ry.

“In dieselfde jaar het ek ‘Tiny se Revenge’ na die verhoog geneem. Dit is ’n storie wat oor die sosiale probleme in die gemeenskap handel en wys hoe gewone gemeenskapslede saamkom om dit op te los.”

Kok vertel dat hy in 2019 die Progressive Arts Network (PAN) gestig het.

Dit is ’n nie-winsgewende organisasie wat met die jeug in die gemeenskap werk.

In Augustus, Vrouemaand, is talle programme wat oor geweld teen vroue handel, deur PAN bekend gestel.

Die Vrouemaandprogram is met ’n kort dramarolprent afgesluit, wat ook op die Facebook-blad gepubliseer is.

Talle kort videoproduksies, elk met ’n boodskap, is op die blad te siene.

Bekend vir veelsydigheid

Benewens die Facebook-blad skryf Kok graag draaiboeke.

Hy het verlede jaar ’n draaiboekwerksessie, Script to Screen Bootcamp, in Johannesburg bygewoon wat deur die South African Arts and Culture Youth Forum aangebied is.

Hier is hy as een van die drie beste studente gekies.

Planne is boonop in die pyplyn om sy eerste boek oor sy Roodepan-stories te publiseer.

Kok skryf reeds geruime tyd vir FindIt, ’n digitale nuusplatform in Kimberley, waar stories soos “Die job”, “Boytjie”, “Liesbet” en “Lena se lot” verskyn het.

Hy skryf ook graag gedigte, meestal in Engels.

Nog ’n gereg op sy skryftafel is om gereeld voorlesings van sy stories op die plaaslike radiostasie RTS FM te doen.

“Daar kom Auntie Mavis” is in 2019 uitgesaai en die opvolg­verhaal, “Daar gaan Auntie Mavis”, word tans uitgesaai.

“Ek werk aan ’n draaiboek vir ’n historiese avontuur-rolprent wat in die Griekwa-gemeenskap afspeel,” vertel hy.

“My nuutste passie lê by rolprente, en ek werk aan ’n projek om jongmense die geleentheid te gee om die nodige vaardighede te ontwikkel om hul eie plaaslike flieks te vervaardig.”

Lewer kommentaar

In November 2015 het “Groep oumas gevang vir water”, een van Kok se stories, ongeredigeerd in Noordkaap verskyn. Dit was in reaksie op watertekorte wat in die stad beleef is.

Die storie het ook op sy Facebook-blad verskyn:

’n Uur gelede is ’n groep van ses Roodepan-oumas gearresteer toe die polisie hulle vasgekeer het in Cuckoo-straat. Die oumas het glo vanoggend by mev. Bott se huis in Naborn ingebreek en haar water gesteel.

Volgens ’n ooggetuie en buurvrou, Aunt Sanna Louw, het sy gesien hoe die oumas oor die muur klim. Een ouma wat jeans aangehad het, het gesukkel om oor te klim en het sommer huistoe gegaan toe sy haar nerwe afgeval het.

Aunt Sanna het die oumas gewaarsku oor die hond, maar een ouma het gesê sy moet nie kom dinge laaik nie. ’n Paar minute later het Aunt Sanna ’n geraas buite gehoor en gesien hoe die oumas loshande oor die muur spring toe die hond hulle jaag. Hulle is weg met vier 2-liter waterbottels en drie emmers wat hulle in ’n kruiwa gelaai het.

Die oumas het langs die pad waterpass gespeel en dis toe dat iemand die polisie gebel het.

Die oumas het die sirenes gehoor en het in alle rigtings gespat. Een het by ’n huis ingedraai en gemaak of sy die mense ken. Nog ’n ouma het haarself disnis teen ’n ligpaal vasgehardloop en die ander is in Cuckoo-straat deur die polisie vasgekeer.

Ouma Dorris het gesê sy bang nie selle nie en het ’n konstabel se oor gebyt. Sy gaan ook aangekla word vir verbal abuse.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.