Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Stories verbreed jou kennis en jou wêreld

Een van Manda Hough, waarnemende stadsbibliotekaris by die Kimberley- openbare biblioteek, se gunstelingdae is Woensdag (05/02) gevier.

Dié dag, Wêreld-hardopleesdag, is vir Hough soos ’n ou bekende want sy het “van kleins af elke aand slaaptydstories gekry”.

Dit is bevind dat die band tussen volwassenes en kinders versterk word wanneer daar vir kinders voorgelees word. Boonop ontwikkel kinders se kognitiewe, ouditiewe en gespreksvoeringvaardighede beter wanneer daar gereeld vir hulle gelees word. Sulke kinders is beter toegerus en gemotiveer om te leer lees en skryf.

Hough is gaande oor boeke en die reuk van blaaie. Sy was ’n leerling aan die Laerskool Staats en die Hoërskool Diamantveld. As kind het sy met haar fiets na dié einste biblioteek gery om in die wêreld van boeke te wees. Selfs met vakansies in Jeffreysbaai het sy saam met haar bibliotekaris-ouma werk toe gegaan om ook te gaan “werk”.

Hough sê biblioteke se fokus het verander. Weens die digitale era kry boeke minder aftrek, maar die voete in ’n biblioteek is nie noodwendig minder nie.

“Hier het mense toegang tot Wi-Fi en internet en kan hulle die rekenaars gebruik. Die meeste rekenaargebruikers in die biblioteek is jong mense wat hul CV’s tik of aanlyn werk soek,” vertel sy.

Studente kom hierheen om te studeer en navorsing te doen en die wat deur Unisa studeer, kan voorgeskrewe boeke in die biblioteek kry. Dienste soos laminering, fotostate maak en fakse stuur is ook beskikbaar.

Die biblioteke loods talle uitreik-aksies na kinders en volwassenes.

Hough is in Desember 2012 by die geskiedkundige Beaconsfield­biblioteek aangestel nadat sy en haar man teruggetrek het Kimberley toe. Voor dit was sy vir 13 jaar die hoofbibliotekaris in Kakamas en het onder meer ’n bykomende tien biblioteke bestuur.

Sy het haar B. Bibl-graad aan die Universiteit Stellenbosch ontvang en het in 1998 as ’n streeksbibliotekaris in Worcester begin werk waar sy onder meer 12 openbare biblioteke in die Hermanus-omgewing bestuur het. Hough was in 2016 ’n nasionale finalis in die Biblioteek- en Inligtingsvereniging van Suid-Afrika (Liasa) se bibliotekaris van die jaar-kompetisie. Sedert 2010 dien sy op Liasa se komitees en was van 2012 tot 2014 op die nasionale uitvoerende komitee. Boonop het sy in 2012 die Liasa Carnegie Library Leadership Academy bygewoon en ’n onderskeiding behaal. Sy doen tans ’n honneursgraad in inligtingkunde.

By die Beaconsfield-biblioteek het sy die Imagination World Reading Club begin – ’n naam wat deur die kinders self gekies is.

By dié biblioteek, en by die ander, word storie-ure aangebied en kinders met lees en spel gehelp.

“Ek kan sien hoe die kinders vorder. Om met begrip te lees, is so belangrik.” In studies is bevind dat baie leerlinge in Suid-Afrika nie met begrip kan lees nie.

Volwassenes besoek die biblioteke ook gereeld. Behalwe vir boeke uitneem, is daar diegene wat elke dag die nuutste koerant of tydskrif in die biblioteek kom lees.

“Ons het boeke in talle huistale en wil die kultuur van lees by almal bevorder,” sê Hough. “In ’n biblioteek is jy weg van die dolle gejaag; jy kan hier kom herlaai.”

Die Sol Plaatje-munisipaliteit het nege biblioteke in sy gebied. Behalwe die Kimberley- openbare biblioteek, is daar een in Beaconsfield, Hadisonpark, Galeshewe, Greenpoint, die Judy Scott-biblioteek in Square Hill Park, die Sonny Leon-biblioteek in Roodepan, Ubuntu in Homevale en die Africana-biblioteek. Galeshewe en Beaconsfield het ook ’n Mini Lib for the Blind waar ’n rekenaar met oorfone gebruik word om boeke wat op CD voorgelees is, te luister.

“Of jy fiksie of nie-fiksie lees – dit vergroot jou woordeskat en verbreed jou wêreld. Jy kan Amerika toe gaan of in die Alpe ski – hier in die biblioteek,” sê Hough.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.