Soos wat ’n mens maar maak wanneer jy in Desember – wanneer alles ’n bietjie rustiger raak – opruim, uitsorteer en vir ander uitdeel, het ek en Kleinsus van haar oortollige speelgoed aangepak.
My verbasing was groot toe ek sien die hoop wat ons hou, bly groot, en die hoop wat sy uitdeel, bly klein.
Ons leef nie juis in ’n huis wat bang is om vir ander te gee nie, so ek vind dit toe verbasend dat sy so baie van wat oortollig is, wil hou en bêre.
Haar antwoord op my kommentaar hieroor troef my. ’n Mens moet kan erken as iemand jou klop.
Sy weet sy het nie al hierdie goed nodig nie en daar is maatjies wat meer daarmee kan doen as sy. Sy weet sy het soms twee van alles, maar ek moet onthou – en hierin lê haar troef-kaart – alles wat sy hou, vertel ’n storie.
Dan begin sy verduidelik van die teddie van ’n gemeente-tannie wat al oorlede is, ’n verjaardaggeskenk wat sy koester en ’n weggaan-geskenkie van sus wat Kaap toe gaan . . . en so hou sy aan.
Wanneer sy die sak uitpak, word haar bêregoed ’n onthou-album van haar kort lewetjie.
Alles vertel ’n storie. Ek sal haar later leer dat ons die stories veral in ons hart moet hou.
Vir nou is haar antwoord goed genoeg.
Ons moet ons stories koester en onthou.