Die uitbreek van bek-en-klouseer in Limpopo het gelei tot ’n verbod op alle veeveilings in vier provinsies.
Op 20 November het die departement van landbou, grondhervorming, landelike ontwikkeling en natuurbewaring aangekondig dat veeveilings in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en die Noordwes onmiddellik tot verdere kennisgewing opgeskort word.
Vrees bestaan dat die siekte na die Noord-Kaap kan versprei. Bek-en-klouseer versprei hoofsaaklik deur die verskuiwing van besmette diere.
TLU SA waarsku dat die verbod op veilings ’n verdere terugslag vir boere sal wees wat reeds weens die droogte verlam is. Die vereniging stem saam dat ernstige aksie nodig is om die verspreiding van die siekte te beperk, maar is nie oortuig dat die verbod op veilings die antwoord is nie en dat die regering eerder moet verseker dat die oorspronklike voorkomende maatreëls streng gevolg en uitgevoer word.
“Verbruikers moet hulself gereed maak vir ’n drastiese prysverhoging van vleis en vleisprodukte. Vleis sal ook baie skaars word,” sê Henk van de Graaf, streekvoorsitter van TLU SA Noord.