Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Vergete sektor’ bly ingeperk
Jenny Uys en haar twee seuns, Henco (links) en Willbritte.Foto: Verskaf

Individue wat buitemuurse aktiwiteite by skole en sentrums vir vroeëkinderontwikkeling (VKO) aanbied, is ’n vergete sektor in die inperking.

So sê Jenny Uys, wat saam met haar jongste seun, Henco, die MathXercise-program by skole en VKO-sentrums aanbied.

MathXercise bied wiskunde­ gekombineer met fisieke oefening vir kinders van 18 maande tot 7 jaar, en vanjaar het hulle dié program ook vir babas van 6 maande en ouer begin aanbied.

Die oogmerk is dat daar deur die oefening meer suurstof na die brein geneem word, wat help dat die kind wiskundige begrippe makliker en vinniger verstaan.

Jenny se oudste seun, Willbritte, bied die Rugby 4 All-program by skole en VKO-sentrums aan. Dit is ’n rugbyprogram vir drie- tot agtjariges wat onder meer bal­vaardighede, groot motoriese ontwikkeling, hand-oogkoördinasie en sosiale ontwikkeling bevorder.

Sedert die begin van die inperking het die Uyse se inkomste hieruit botstil gaan staan en tans, vier maande later, is daar vir hulle geen lig in die tonnel nie.

Nog ’n vrou, wat vroeër perdryterapie by skole in Kimberley aangebied het, moes haar sentrum toemaak en het intussen uit Kimberley verhuis.

Soos die Uys-gesin het sy ook skole besoek, waar sy met behulp van ’n mobiele sentrum haar terapie kon doen. Dit het nie van ouers vereis om rond te ry nie.

Sy sê baie ouers het met die aanvang van die inperking haar dienste weens geldelike onsekerheid kanselleer en omdat die meeste nie wou of kon betaal vir ’n diens wat nie tydens die eerste vlakke van die inperking toegelaat is nie.

Jenny sê later in vlak 3 kon diegene wat buitemuurse aktiwi­teite aanbied en deur skole en VKO-sentrums gekontrakteer is, terugkeer om hul dienste te lewer, maar dié wat nie gekontrakteer is nie, mag nie teruggekeer het nie.

Met die nuutste sluiting van skole is dit ook gestaak.

Volgens Jenny het hulle ’n Facebook-blad, MathXercise, begin waarop hulle klasse aanbied.

“Maar ons bereik nie ’n tiende van ons kinders nie, aangesien baie ouers nie oor die hulpmiddels beskik nie of ook nie ’n inkomste verdien nie. Of die ouers het nie die tyd om die program saam met hul kinders te doen nie.”

’n Bykomende probleem, sê Jenny, is dat VKO-sentrums so lank toe was dat talle ouers nou ander maniere gekry het om hul kinders in die dag te versorg. Ook dat hulle te bang is om hul kinders te midde van die pandemie na die sentrums te stuur.

“Die aantal kinders wat terugkeer skole en VKO’s toe, is laag. Die aantal VKO’s wat intussen hul deure toegemaak het, is bewys hiervan,” sê sy.

Nog ’n uitdaging vir Jenny is dat die program maandeliks of kwartaalliks vooruitbetaalbaar is.

“Nou gebeur dit dat van die ouers hul vooruitbetaalde geld terugeis. Die inperking het ook net ná die eerste kwartaal begin, en toe reeds het baie ouers besluit om nie verder te betaal nie omdat die hele situasie so onseker is.

“Niemand kan vir die dag van môre beplan nie en dié aktiwiteite word nou as luukshede beskou.

“Baie ouers het hul werk in dié tyd verloor en kan dit net nie meer bekostig nie. Maar in die proses het ons ook ons inkomste verloor.”

Sy bevestig dat hulle opleiding in Covid-19-voorkomingsmaatreëls ontvang het en heeltemal voorbereid is om klasse op ’n veilige manier aan te bied wat nie die kinders of hulself in gevaar stel nie.

“Sport en enige soort oefening of aktiwiteit is so belangrik vir ’n kind, en veral in hierdie tyd.

“Kleintjies kan nie hul vrese in woorde weergee nie. Sport en buitemuurse aktiwiteite leer kinders om vrese en emosies beter te beheer en om op ’n positiewe manier aan hul vrese uiting te gee.

“As ons as volwassenes so bang en onseker is, hoeveel te meer nie kinders nie, want ons dra dit onbewustelik aan hulle oor.”

Jenny meen dat die terugkeer na buitemuurse aktiwiteite weer vir kinders “normaliteit” sal bied.

Depressie onder kinders neem toe en net ’n bietjie sport, oefening, vars lug en gesonde opvoedkundige afleiding kan dit alles verander, sê sy.

Maandag (27/07) het Volksblad berig oor wat Shukri Conrad, afrigter van Krieket Suid-Afrika se nasionale akademie, in verband hiermee gesê het.

“Dit maak nie vir my sin hoe kinders binnenshuis kan skoolgaan, maar dat dit nie moontlik is om krieket, ’n nie-kontaksport, buite te speel nie.”

Conrad sou ook glo gesê het dat waar sy 11-jarige seun nou twee middae ’n week rugby sou oefen en twee middae hokkie, “hy nou net voor die Xbox sit”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.