Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Verkeergesprek loop maklik in sirkels
Die bekendste verkeersirkel in Kimberley is die een by die Honoured Dead Memorial. Foto: Helena Barnard

Een van die bekendste verkeersirkels in Kimberley is dié by die Honoured Dead Memorial. Redelik onlangs is nog enkele verkeersirkels net buite dié stad aangebring, asook klein verkeersirkels in die stadsgebied.

Die motorskrywer Marnus Hattingh het die vraag gevra of Suid-Afrika die roete van Europa moet volg en verkeersligte met die moderne verkeersirkel vervang.

Hy het die voor- en nadele opgeweeg.

Oorsee word daar met groot verkeers­kruisings en -ligte weg­gedoen. In die plek hiervan word sirkels geskep – van die klein sirkel wat die plek van ’n ou T-aan­sluiting inneem, tot die dubbelweg-sirkel en die geligte sirkel wat bo-oor die snelweg staan.

Verkeersligkruising se kruis

Kritici sê dit kan verkeer vir die grootste gedeelte van die dag meer ophou as wat dit vloei.

Verkeersligte moet in siklusse programmeer word om die verkeer te reguleer. Dit gebeur dat, hoewel daar geen kruisverkeer is nie, die verkeerslig rooi skyn sodat jy moet wag. Dit vermors tyd en brandstof wanneer voertuie onnodig talm.

’n Tweede probleem wat verkeersligte bied, is hul hoë risiko vir ongelukke. Volgens ingenieurs dra verkeerskruisings 24 moontlike kontakpunte waar voertuie teen mekaar kan bots. Wat dit erger maak, is die spoed waarteen voertuie bots. Die botsing is maklik noodlottig wanneer twee voertuie reg van voor in mekaar vasry.

’n Derde nadeel van verkeerskruisings is hul afhanklikheid van elektrisiteit. Beurtkrag of kabeldiefstal kan verkeersligte in ’n oogwink neutraliseer.

G’n sirkel-redenasie

Verkeersirkels bied verskeie voordele – mits dit reg ontwerp is.

Die geheim lê in die grootte van die sirkel en die hoek van die toegangspaaie.

Hoe groter ’n sirkel is, hoe meer tyd is daar vir die volgende voertuig wat wag om die sirkel binne te gaan om ’n gaping te vind.

Dit beteken voertuie wag minder by die aansluitingspunt, wat verkeersvloei verbeter.

Die hoek van die toegangspad speel ook ’n belangrike rol.

As die toegangspad ietwat skuins by die sirkel aansluit, pleks van loodreg soos van ouds, kan ’n motor vinniger en makliker by die bestaande vloei in die sirkel aansluit.

Dit is egter nie net maanskyn en rose nie.

Die groter oppervlakte beteken meer grond is daarvoor nodig, wat die prys vir die aanbring van ’n sirkel opjaag.

Dit is ook duurder om ’n sirkel te bou as om ’n reghoekige kruising met verkeersligte te skep.

Meer ingenieurswerk en beplanning en bane is nodig.

Sirkels se swakplek word duidelik ten tyde van spitsverkeer.

’n Stroom aankomende verkeer kan veroorsaak dat ’n baan van aansluitende voertuie nie die sirkel kan binnegaan nie. ’n Verkeerslig dwing op sy beurt voertuie om stil te hou.

Sirkels bevorder veiligheid en werk omgewingsbesoedeling teen.

Omdat voertuie stadiger in ’n sirkel ry, en nie hoef weg te trek nie, verbruik hulle minder energie en blaas dus minder gasse uit.

Botsings geskied nie loodreg nie, en ook met minder spoed, wat die impak verlaag.

Die pad vorentoe

Motoriste sal beter opgelei moet word om verkeersirkels te hanteer, soos in Kimberley die geval is.

Een van Suid-Afrika se dilemmas is die twee soorte sirkels wat in woonbuurte aangetref word.

Benewens gewone sirkels is daar mini-sirkels, wat pleks van die gewone toegee-na-regs-stelsel eerder soos ’n vierrigtingstop werk. Dit kan verwarrend wees. Sirkels met twee bane kan ook verwarrend wees.

Ingenieurs beklemtoon egter die langtermynvoordele van sirkels.

Dit is duurder om ’n verkeersirkel te bou, maar op die duur beloon dit die gemeenskap met skoner lug, laer brandstofverbruik, vinniger verkeersvloei en geen instandhoudingskoste of afhanklikheid van elektrisiteit nie.

Netwerk24
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.