Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Visie vloei in strate weg
InfrastruktuurFoto: Helena Barnard
Vars water, van ’n lekplek in Elsmere-weg in Kimberley afkomstig, vloei reeds vir dae etlike straatblokke ver. Dit is een van ’n menigte soortgelyke waterlekke in dié hoofstad.Foto: Helena Barnard
In die Bankhara Bodulong-woonbuurt by Kuruman word inwoners se gesondheid deur onverwerkte riool bedreig. Foto: Verskaf

Die toenemende en drastiese agteruitgang van die infrastruktuur van Noord-Kaapse munisipaliteite in die geheel kan dr. Zamani Saul, premier, se visie van ’n moderne, groeiende en suksesvolle provinsie drasties in die wiele ry.

Die aankoms in bykans enige Noord-Kaapse dorp, en ook in die hoofstad, Kimberley, word met die reuk van riool begroet.

Motoriste moet vir slaggate uitswaai en die gebrek aan verkeerstekens en nie-werkende verkeersligte hou ’n ongelukgevaar in. Voeg hierby nimmereindigende waterstrome, veroorsaak deur lekplekke wat nie na behore herstel word nie of weens verouderde infrastruktuur, wat daagliks miljoene liter vars water vermors.

Verlede week was Kimberliete weer onverhoeds gevang deur ’n onderbreking in watertoevoer van bykans 48 uur. Asof dit nie erg genoeg was nie, het Eskom ook sy hou met beurtkrag ingekry.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het in Augustus gesê beurtkrag is tot laat in volgende jaar te wagte. Eskom se krisis spruit uit veral korrupsie en infrastruktuur wat nie in stand gehou is nie, asook diefstal en vandalisme.

Inwoners van Warrenton en Warrenvale gaan ook onder watertekorte gebuk terwyl die werknemers wat onderhoudwerk moet doen, glo met vakansie is. ’n Enkele munisipale werker uit ’n ander afdeling moes glo ingryp en teen Dinsdagoggend (08/09) laat was herstelwerk steeds aan die gang.

In Upington en Kuruman gaan dit nie beter nie en inwoners moet self ingryp om basiese dienste aan die gang te hou. (Sien berig op bl. 2).

Intussen is op nasionale vlak gesê dat die regering se infrastruktuurplan van honderdmiljarde rande om ná die Covid-19-pandemie nuwe lewe in Suid-Afrika se sukkelende ekonomie te blaas “nie lugkastele is nie”.

So het dr. Kgosientsho Ramokgopa, hoof van infrastruktuur en beleggings in die presidensie, op 2 September voor die parlement se verkose komitee oor vervoer, staatsdiens en administrasie, openbare werke en infrastruktuur gesê. Hy sê dit is ver van die waarheid dat die infrastruktuurplan – waarvoor R340 miljoen se beleggings van die private sektor bekom is – lugkastele is. Sommige LP’s het dit as sodanig beskryf. Volgens hom sal van die projekte in September begin.

Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, het op dié dag gesê daar is vir die eerste fase van die plan sowat 62 uit 276 volhoubare infrastruktuurprojekte oor die land heen – in stedelike en landelike gebiede – identifiseer.

Jana Marx, ondersoekende joernalis van Netwerk24, skryf verlede week dat terwyl die land se ekonomie weens die staatskaping ly wat Eskom op sy knieë het, ’n volgende krisis wag.

“Korrupsie en wanbestuur het veroorsaak dat ’n reeds droë land se netwerk van watervoorsiening in duie kan stort, met katastrofiese gevolge as daar nie dringend ingegryp word nie,” skryf Marx.

Die Covid-19-pandemie het ’n klomp kwelpunte in die Suid-Afrikaanse samelewing blootgelê, een daarvan die stand van die land se watersekerheid wat veroorsaak is deur kwessies waaraan daar vir jare lank nie aandag gegee is nie.

Dit sluit in die toestand van die infrastruktuur, watergehalte en die onvermoë van die regering op nasionale en plaaslike vlak om waterdienste te lewer en sy geld reg te bestuur. En hiervan is ook dorpe in die Noord-Kaap getuie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.