
Zelda Lombaard demonstreer die ontbyt-in-’n-beker-gereg en voorsitter Marianne Vorster hou die mikrofoon vas.Foto: Verskaf

Lavina Schoeman vertel hoe inwoners van die Mimosahof-tehuis vir bejaardes die grendeltyd ervaar het. Foto: Verskaf
Die grendeltyd het vele eksperimente in die kombuis tot gevolg gehad. Tydens ’n onlangse byeenkoms van die Vrouelandbouvereniging (VLV) se Kuruman-tak is een so ’n eksperiment, “ontbyt in ’n beker”, aan die teenwoordiges demonstreer.
Zelda Lombaard, sameroeper vir leefstyl, verduidelik dit soos volg: Bespuit ’n beker met voedselsproei, soos Spray and Cook; pak kaas, tamatie, rou spek, sampioen en brood in lae in die beker; klits ’n eier en voeg sout en peper by; gooi dit bo-oor alles in die beker en plaas in die mikrogolf teen 80% vir drie minute.
Jongeling en Volgende Voetspoor Ilzé Strydom het haar ervaring van die inperking gedeel.
“Dit was vreemd om die gesin heeldag te sien, elke dag. Ná die grendeltyd was ek en my vriende nader aan mekaar omdat ons mekaar lank nie kon sien nie. Ek het gesien dat skoolwerk eintlik baie moeilik is wanneer jy dit op jou eie moet doen. Ons sê nie genoeg vir ons onderwysers dankie nie.”
Lavina Schoeman het vertel hoe die inwoners van die Heuwelsig-aftreeoord en die Mimosahof-tehuis vir bejaardes die grendeltyd ervaar het.
“Ons was regtig-regtig ingeperk. Dit was eintlik onhanteerbaar. Dié wat in die woonstelle en huise gebly het, kon net een maal per week dorp toe gaan. Dán moet jy onthou om alles te doen – soos plaasmense,” het Schoeman gesê.
“Vir die mense wat in die ouetehuis self is, moes dit verskriklik erg gewees het, want vir lang tye kon daar niemand ingaan om hulle te besoek nie.
“Ons is almal so lief vir ons kinders en ons kleinkinders, maar hulle kon nie vir ons kom kuier nie,” het Schoeman gesê.
“Die tralie-kuiers was maar algemeen. Dan sit die mense weerskante van die tralies, met maskers, en kuier maar só.
“Apteke en winkels het darem medisyne en inkopies afgelewer.
“Die inwoners van die ouetehuis self het baie vereensaam. Wanneer hulle weer besoekers kan ontvang, moet ons almal moeite doen om wel by hulle te gaan kuier,” het Schoeman voorgestel.
Hettie du Plessis