Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Watervlak steeds te laag

Daar is steeds geen einde in sig wat betref die nagtelike wateronderbrekings wat inwoners van die Diamantstad reeds sedert einde verlede jaar moet verduur nie.

Dít ondanks Vrydagnag (01/02) se milde reën van 44 mm in Kimberley.

Sello Matsie, ’n woordvoerder vir die Sol Plaatje-munisipaliteit, het vroeër vandeesweek laat weet dat die watervlak by die Newton-reservoir in Kimberley Maandag (04/02) op 10,6 voet gestaan het. Volgens hom moet die munisipaliteit toesien dat ’n vlak van 16 voet gehandhaaf word alvorens daar oorweeg kan word om die wateronderbrekings, wat daagliks van 18:00 tot 04:00 duur, af te skaf.

Matsie het toegegee dat die reën wel gehelp het om die druk effens te verlig, maar sê dit was nie genoeg om wateronderbrekings te vermy nie. Volgens Matsie oorskry die vraag na water steeds die aanbod.

Die DA in die Noord-Kaap het verlede week ’n beroep op die Sol Plaatje-munisipaliteit gedoen om ’n beter manier te vind om die krisis te hanteer. Hy het Donderdag (31/01) in ’n nuusverklaring voorgestel dat die druk saans verminder word in plaas daarvan dat die watertoevoer geheel en al gestaak word.

“Wateronderbrekings is een van die hoofoorsake van pype wat gereeld in Kimberley bars. Die wateronderbrekings veroorsaak dat lug in die stelsel beland en dit is baie sleg vir die pype,” het Andrew Louw, die DA se provinsiale leier, gesê.

Volgens Louw kla honderde inwoners van Kimberley ook oor astronomiese water­rekenings wat aandui dat hul waterverbruik verdubbel en selfs verdriedubbel het, omdat hulle vir lug wat deur pype beweeg belas word en nie vir water wat deur die pype vloei nie.

Die munisipaliteit het ’n ondersoek begin om te bepaal waarom inwoners se water­rekenings in Januarie veel hoër as die maandelikse gemiddeld was. Talle mense het kapsie gemaak teen buitensporige waterrekenings vir Januarie, met ander wat gesê het dat hulle eenvoudig nie kan bekostig om die hemelhoë rekenings te betaal nie.

“Die verskoning dat die Sol Plaatje-munisipaliteit met verouderde infrastruktuur sit, hou nie meer water nie en moet nie aanvaar word nie. Ou stelsels moet in stand gehou en gereeld verbeter word.

“Die munisipaliteit moet verduidelik wat hy in terme van beplanning gedoen het om te verseker dat daar genoeg reservoirs is en om die pypleiding op te knap om te verseker dat daar voldoende watertoevoer aan die stad is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.