Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Welkom’ opnuut bedoel
Rommel by die ingangsroete na Kakamas, langs die N14, is Saterdag (19/09) deur gemeenskapslede opgeruim. Inwoners beoog dat die skoonmaak van die dorp deurlopend plaasvind en dat hulle weer met ’n oop gemoed ’n “Welkom in Kakamas”-bord op die struktuur in die agtergrond, wat nou leeg is, sal kan aanbring. Foto: Helena Barnard
Inwoners van Kakamas maak Saterdag (19/09) die parkie by die ingangsroete na die dorp skoon. Straatbewoners bly ook die afgelope tyd hier. Foto: Helena Barnard
Die parkie in Kakamas by die ingangsroete langs die N14, wat in 'n rommelhoop ontaard het. Te dankie aan besorgde inwoners is dit nou opgeruim. Foto: Verskaf

Dat daar nie eens meer ’n “Welkom in Kakamas”-bord by die hooftoegangsroete is nie, is vir besorgde inwoners van dié dorp aan die oewers van die Oranjerivier ’n teken dat iets gedoen moet word.

Weens die tempo waarteen rommel die dorp al hoe meer ontsier, voel inwoners self nie welkom in hul dorp nie.

Saterdag (19/09) was Wêreldskoonmaakdag, en “omdat ons moeg is om te kla, het ons besluit om op te tree.”

Só vertel Graig O’Brien, een van die organiseerders wat die skoonmaakprojek begin het om die parkie by die hoofingangsroete langs die N14 netjies te hou.

O’Brien, van die nie-winsgewende organisasie Care 4 Life, asook Marie Nel en Sonja de Vos van die omgewing, het Saterdag saam met ongeveer 40 ander gemeenskapslede hande uitgesteek om op te ruim.

“Dit was verstommend hoeveel gemeenskapslede opgedaag het – mense wat omgee en die dorp wil verbeter,” sê hy.

Boonop het talle ondernemings hulle spontaan ondersteun met onder meer die verskaffing van eetgoed, voertuie en sleepwaens om die rommel mee weg te ry.

Benewens dat rommel in groot hoeveelhede gestrooi is, die parkie verwaarloos is en strukture soos die simboliese waterwiel toegelaat is om agteruit te gaan, het straatbewoners die park in ’n blyplek omskep waar hulle produkte gemaak het om te verkoop. Hier het hulle snags vuur gemaak en rommel het bly ophoop.

“Ons wil ander plekke in die dorp ook skoonmaak, die waterwiel in die parkie verf én weer ’n ‘Welkom in Kakamas’-bord oprig,” sê O’Brien.

Ook in Upington het inwoners en ondernemings onlangs rondom die duikweg sakke rommel opgetel.

In Hartswater het inwoners, uit moedeloosheid omdat die Phokwane-munisipaliteit nie meer dienste lewer nie, rommel opgetel en dit by die munisipale gebou se voordeur gaan aflaai.

Inwoners van Olifantshoek is raadop oor rommelstrooiers wat ook hul dorp se toegangsroetes ontsier.

Só stroom klagtes vanuit bykans elke Noord-Kaapse dorp in.

Maandag (21/09) het die burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley, Patrick Mabilo, ’n diensleweringprogram, Reclaiming the Sparkle of the City, begin.

Die eerste fase van die program sal glo oor drie maande strek, waarin alle diensleweringsake in die 33 wyke aangepak sal word.

Hoewel baie uitdagings in dié provinsiale hoofstad bestaan, sê Mabilo in ’n verklaring dat hy, die raadslede en amptenare opnuut gefokus is om dienste te lewer en weer die vertroue van die gemeenskap te wen.

Frustrasies met riool wat gebiede oorstroom, waterlekke, slaggate, die opruim van rommel, die storting van rommel in bykans enige oop gebied, die skoonmaak van stormwaterkanale en die herstel van hoëmas- en straatligte word volgens dié program in Kimberley aangepak.

Vrydag was nasionale Herwinningsdag, waardeur klem gelê is op die belangrikheid van herwinbare verpakking. Tydens die Waste Khoro wat verlede week in Pretoria aangebied is, het die minister van omgewingsake, bosbou en vissery, Barbara Creecy, die belangrikheid van die afvalhiërargie beklemtoon.

Creecy sê meer moet in munisipaliteite gedoen word om stortingsterreine behoorlik te bestuur, die weeklikse afhaal van rommel by huishoudings moet verbeter word en die herroetering van herwinbare rommel vanaf stortingsterreine moet dringend aandag kry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.