Sy sit die hopie inligting op my tafel neer en verdwyn die gang af.
Bo-op elke hopie papier is ’n netjiese nota vasgesit wat aandui waaroor daardie spesifieke afdeling gaan. Ek haal diep asem diep asemteug in en blaas dit stadig oor my lippe uit. Dit is ’n asemteug van dankbaarheid.
Dit is verskriklik om te dink dat die samelewing al so afgestomp geraak het dat ’n mens eerder swakker as beter gehalte werk verwag. Én daarmee tevrede is. Min of meer.
Ek neem die ek-is-trots-op-wat-ek-doen-hopie en sit dit in ’n koevert. Die oefening was soveel makliker as waarop ek voorbereid was.
In alle sfere van alle werksgebiede is daar dié wat trots is op wat hulle doen en dié wat nie so trots is op wat hulle doen nie. Dit maak nie saak watter soort werk jy verrig nie – dit is met jouself wat jy moet saamleef. Dit is maklik om ander mense ’n rat voor die oë te draai en te oortuig dat dit jou beste poging is.
Papier is geduldig. Langsamerhand kom die kaartehuis netjies tot stand, om oornag in duie te stort. Ongelukkig tref die stof en ’n paar vlieënde kaarte diegene die naaste aan jou.
As jy werk om iemand anders tevrede te stel, sit jy waarskynlik baie meer energie daarin as wat jy werk om jouself tevrede te stel.
Sommige mense is in elk geval met niks tevrede nie.
As jy ’n hoë standaard van werkverrigting handhaaf, is die kans goed dat ’n paar mense, insluitend jouself, daarmee tevrede gaan wees.
Dankie aan diegene wat, ongeag waar hulle in die werksmag inpas, trots is op wat hulle doen.