SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Nuus
Wiele rol met Jan Tuisbly se kar

Terwyl sommige binnelanders gereed is om die langpad see toe aan te durf, is daar talle wat tuis bly.

Gelukkig bied die Diamantstad ’n skatkis van besienswaardighede. Hier is ’n paar van die plaaslike juwele wat Kimberley bied:

) Die Groot Gat en die Kimberley-mynmuseum

Dié tamaai gat van 215 m diep spreek boekdele oor die ontstaan van die Diamantstad gedurende die diamantstormloop van die 1870’s toe prospekteerders die gat met die hand oopgegrawe het op soek na diamante.

Dit het oor die jare ’n ongelooflike 2 722 kg diamante opgelewer en is Kimberley se bekendste toeristeaantreklikheid.

Besoekers kan hier na ’n film oor Kimberley se diamantgeskiedenis kyk en ’n ondergrondse mynskag besoek om meer te leer oor hoe daar vir diamante gemyn is.

Die myndorpmuseum om die Groot Gat bied ’n idee van watter plek Kimberley in die laat 1800’s was.

Besoek www.thebighole.co.za.

) Die McGregor-museum

Die McGregor-museum is een van Kimberley se gewildste toeristebestemmings. Dié museum, in Atlasstraat in Belgravia, stel meer as drie miljoen jaar van menslike geskiedenis in die Noord-Kaap ten toon.

Die Britse mynmagnaat Cecil John Rhodes het in hierdie einste gebou tuisgegaan tydens die Beleg van Kimberley (1899 tot 1900).

Die museum bied hope inligting oor onder meer die Noord-Kaap se geskiedenis, die Beleg van Kimberley, gelowe, en so meer.

Besoek www.museumsnc.co.za.

) Mokala- Nasionale Park

Die Mokala- Nasionale Park is sowat 80 km suidwes van Kimberley op die N12 na Kaapstad geleë en strek oor ’n heuwelagtige gebied van sowat 32 448 ha, wat uit koppieveld en uitgestrekte vlaktes bestaan. ’n Groot verskeidenheid wild kom hier voor.

Die park bied geriewe aan dag- en oornagbesoekers en sluit ’n restaurant, verskeie ruskampe, boomhuise en konferensiegeriewe in.

Besoek www.sanparks.org/parks/mokala.

) Kamfersdam

Kamfersdam is ongeveer 6 km buite Kimberley op die N12 na Johannesburg en is bekend vir die flaminke wat daar voorkom.

Die dam is glo een van vier broeiplekke vir dié voëlsoort in Afrika en een van slegs ses in die wêreld.

Die flaminke lewe op alge in die dam en paar op die S-vormige eilandjie in die middel van die dam. Die flaminke is vir die grootste deel van die jaar op dié pan te sien.

Bel Birdlife Suid-Afrika by 011-789-1122.

) Die William Humphreys-kunsgalery

Dié museum langs die burgersentrum in Cullinanstraat, is in 1952 gestig en versamel Suid-Afrikaanse kunsstukke om die erfenis van die Suid-Afrikaanse kuns van die verlede en die hede te bewaar.

Die museum bevat ook Nederlandse, Vlaamse, Franse en Britse kunswerke, en ook talle meubelstukke.

Besoek www.whag.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.