Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Yonder toon feestelike vindingrykheid vir Kby

Met twee kunstefeeste wat in minder as ’n jaar in die Diamantstad gestaak is – eers die Gariep Kunstefees en toe die Diamonds-en-dorings-musiekfees – het Yonder, ’n werkswinkel vir volwasse mense met intellektuele gestremdheid in Kimberley, nou ambisieuse planne om ’n nuwe fees uit die stof te laat verrys.

Volgens Jannie van Zyl, direkteur van Noord-Kaap-geestesgesondheid en die brein agter hierdie fees, sal die Yonder-hartsfees, soos dit bekend sal staan, van 29 Augustus tot 1 September deur gestremde mense by Yonder aangebied word – min of meer dieselfde tyd waarin die Gariep Kunstefees jaarliks plaasgevind het.

Die feesprogram sal volgens Van Zyl optredes deur plaaslike en bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars, ’n pretpark, kosstalletjies, ’n kaskarresies, ’n rolstoelwedren, bergfietswedrenne, kindervermaak en selfs rolstoelrugby insluit.

“Die fees gaan op Yonder se terrein aangebied word en sal ’n eg Noord-Kaapse geur en karakter hê onder die skadu van die Kameel­doringbome,” sê Van Zyl.

“Die organiseerders beplan ’n program wat die hele gesin betrek en vermaak, lekker kos, lekker musiek, kunstenaars en ’n jaarlikse kuier soos net Kimberley kan.”

Van Zyl wil nog nie te veel verklap oor watter kunstenaars feesgangers kan verwag nie, maar sê die fees beloof groot pret en opwinding vir oud en jonk.

Volgens hom is die doel van die fees om bewustheid rondom geestesgestremdheid te skep en die vaardighede van Yonder se mense ten toon te stel. Natuurlik sal dit ook as ’n geldinsamelingsprojek vir Noord-Kaap-geestesgesondheid gebruik word.

“Ons wil graag vir die mense van Kimberley wys dat iemand met ’n gestremdheid ’n geleentheid vir die publiek kan aanbied wat niks minder as ’n ware fees is nie.

“Ons wil ’n geleentheid skep waarop plaaslike talent kan skouers skuur met nasionale talent en waarop plaaslike besighede ’n geleentheid kan kry om wins te maak, hetsy deur verkope op die feesterrein of deur die besigheid wat besoekers na Kimberley bring.”

Volgens Van Zyl is daar reeds ’n feeskomitee saamgestel met talle betrokkenes in die sakesektor van Kimberley wat baie opgewonde daaroor is om Yonder se hande te sterk en saam met hulle te werk om ’n sukses van die projek te maak.

Chris Human, ’n voormalige logistieke bestuurder vir die Gariep Kunstefees, is betrek en sal met sy kundigheid help om die fees op die planke te bring.

Volgens Van Zyl hoop hulle om gedurende die drie-dag-lange-fees ongeveer 15 000 besoekers vanuit Kimberley, omliggende gebiede en die res van die land te lok en dat die gebeurtenis ’n bydrae tot die ekonomie van Kimberley kan lewer.

Bernice Versluis, voormalige uitvoerende direkteur van die Gariep Kunstefees, het in reaksie op die nuus van die splinternuwe fees vir Kimberley gesê: “Ons wens Yonder alle sukses toe met hierdie feestelike inisiatief en is bly dat iemand weer die leisels wil opneem om die leemte wat die Gariep Kunstefees in Kimberley en sy ekonomie laat, te vul. Mag dit ’n fees wees!”

  • Tenders vir kos- en kuns­stalletjies is beskikbaar. Belangstellendes moet vinnig spring, want dit is beperk.

Bel Aletha Schoeman by 053-841-0537 of Chris Human by 082-305-3846 vir inligting, of stuur ’n e-pos na mail.yonder@gmail.com om uit te vind oor die nuwe geleenthede wat die fees het om te bied.

  • Noord-Kaap-geestesgesondheid sien daagliks na 280 mense met ’n intellektuele gestremdheid om.

Yonder is ’n permanente tuiste vir baie van hierdie mense, maar ook ’n veilige hawe vir dag­besoekers.

Ná ’n deeglike assessering en vaardigheidsopleiding word baie van die mense in die gemeenskap geplaas waar hulle met groot sukses by plaaslike ondernemings werk.

Daar is egter ook van Yonder se inwoners en dagbesoekers wat nie uitgeplaas kan word nie, maar wat daagliks hul take by een van Yonder se 18 werkswinkels op die terrein verrig.

Die kweek en koestering van mens­waardigheid is een van die grootste doelstellings van die instelling.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.