Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Noordkaap
Omstrede hospitaal van R2 miljard steeds in onbruik

Meer as 12 jaar nadat bouwerk aan Kimberley se omstrede psigiatriese hospitaal begin het en nadat meer as R2 miljard reeds aan die projek bestee is, staan die hospitaal steeds leeg en ongebruik.

Andrew Louw (regs), die DA se provinsiale leier en premierskandidaat in die Noord-Kaap, gesels met Makashule Gana, DA-LP en DA-woordvoerder vir basiese dienste, gedurende hul besoek aan die Kimberley Psigiatriese Hospitaal. Foto: Christiaan Cloete

Andrew Louw, die DA se provinsiale leier en premierskandidaat in die Noord-Kaap, het Woensdag op Wêreldgeestesgesondheidsdag die terrein saam met ’n DA-span besoek. Hy is deur onder andere Makashule Gana, DA-LP en DA-woordvoerder vir basiese dienste, en Harold McGluwa, die DA se provinsiale voorsitter in die Noord-Kaap en hoofsweep in die provinsiale koukus, vergesel.

Die gebou het met die besoek leeg gestaan en daar was geen pasiënte, dokters of verpleegsters in sig nie, slegs bouwerkers en veiligheidswagte. Die tuin het onversorg voorgekom en onkruid groei welig in die beddings.

Die DA het glo vroeër versoek dat dr. Dion Thys, hoof van die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement, die oorsigbesoek meemaak, maar hy het nie opgedaag nie.

Clement Kaotsane, assistentdirekteur van veiligheid by die hospitaal, het die DA-lede vergesel.

Dele van die hospitaal kon nie besigtig word nie weens die biometriese veiligheidstelsel wat toegang beheer.

Kaotsane sê egter dat hy nie by magte is om namens die departement van gesondheid te verduidelik waarom die hospitaal nog nie in gebruik is nie.

Louw het ná die inspeksie gesê hy is geskok.

“Die gebou is vol ‘leegheid’,” het hy dit beskryf.

Meer as ’n dekade nadat bouwerk begin het en nadat meer as R2 miljard reeds bestee is, staan die Kimberley Psigiatriese Hospitaal se deure steeds bot toe. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Louw het premier Sylvia Lucas vroeër vanjaar met haar staatsrede gesê dat die hospitaal vanjaar sou open. Dit het egter nie gebeur nie.

Die DA gaan vrae aan Lucas rig om te verduidelik waarom die hospitaal nog nie sy deure geopen het nie.

Louw sê dat indien die DA nie ’n bevredigende antwoord kry nie die party ander stappe sal oorweeg.

Louw sê ook dat dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, die finale verantwoordelikheid dra en moet kom kyk wat op die perseel aangaan.

“Hierdie regering gee nie vir mense om wat aan psigiatriese toestande ly nie. As hulle wel omgegee het, sou hierdie plek al oop gewees het,” het Louw Woensdag aan media gesê.

Hy betreur ook die feit dat baie pasiënte op Wêreldgeestesgesondheidsdag elders om hulp moet aanklop terwyl die gerief tans leeg en ongebruik staan.

Meer oor:  Andrew Louw  |  Makashule Gana  |  Kimberley
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Noordkaap Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.