SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
PE-Express
Framesby se skoolhoof tree af ná vier dekades
Jan Stroebel, skoolhoof van die Hoërskool Framesby, tree teen einde September af.

Ná byna 41 jaar in die onderwys en skoolhoof sedert Januarie 1994, het die tyd aangebreek vir die Hoërskool Framesby se skoolhoof om die tuig neer te lê.

Onderwys was van jongs af die loopbaan van sy keuse en die opvoeding van kinders is heelbo op sy lysie van prioriteite.

“Dis vir my belangrik en lê my baie na aan die hart. Dit bly ’n voorreg om deel te kon wees van die opvoeding, onderrig en afrigting van duisende kinders oor baie jare. Dit speel ’n groot rol in ons samelewing.”

Jy word deel van ’n familie by die skool en niemand hoef alleen iets aan te pak nie. Jy word deel van ’n groep waar ons omgee vir mekaar, liefde toon en mekaar waardeer.
Jan Stroebel, skoolhoof

Stroebel se onderwysloopbaan het by sy oud-skool, die Hoërskool Grens begin nadat hy as ’n gekwalifiseerde onderwyser by die destydse Universiteit van Port Elizabeth gegradueer het.

“Ek was vir 14 jaar ’n onderwyser by die Hoërskool Grens waar ek ná ses jaar as departementshoof aangestel is. Ek is daarna as adjunkhoof aangestel. Aan die begin van 1994 is ek aangestel as die skoolhoof van Adelaide Gimnasium op die platteland en ek was daar vir 14-en-’n-half jaar. In Julie 2008 is ek as skoolhoof by die Hoërskool Framesby aangestel,” het Stroebel gesê.

Ná 10 jaar as skoolhoof by die Hoërskool Framesby, is dit die familie-eenheid wat Stroebel altyd sal koester.

“Jy word deel van ’n familie by die skool en niemand hoef alleen iets aan te pak nie. Jy word deel van ’n groep waar ons omgee vir mekaar, liefde toon en mekaar waardeer.”

Jan Stroebel, skoolhoof van die Hoërskool Framesby, gesels oor sy aftrede.

Stroebel sê hy is trots daarop dat Framesby se akademiese prestasie besonder goed is en om sy loopbaan op só ’n hoogtepunt te eindig.

“Ons akademiese uitslae is voortreflik en daar is baie energie en opwinding by ons sport- en kultuuraktiwiteite. Ons het die afgelope 15 jaar ’n gemiddelde matriekslaagsyfer van 99.8%. Die skool is op ’n goeie plek.”

Met 41 jaar agter die rug as ’n rolmodel en inspirasie vir sy mede-onderwysers, het die tyd nou aangebreek vir hom om te ontspan en die lewe met nuwe oë te aanskou.

“Ek het altyd gesê dat ek ten minste 40 jaar in die onderwys wil wees. Ná die onderwys moet daar ’n lewe wees. Een van die hoofredes vir my besluit om af te tree is dat ek tot die punt gekom het waar ek vir myself kan sê dat ek bereik het wat ek wou bereik het.

“Ek sal graag nog betrokke by skole wil wees. Dalk om hulle te help met begrotings, roosters en bestuur. En dan moet ek nog beplan wat ek met al my spaartyd gaan doen.”

Teen einde September vanjaar sal Stroebel sy kantoor ontruim om vir die nuwe skoolhoof plek te maak.

“Dis ’n goeie tyd om oor te gee aan ’n nuwe persoon wat as skoolhoof aangestel gaan word. Die spesiale deel wat Framesby in my loopbaan gespeel het sal altyd onvergeetlik bly,” het Stroebel gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak PE Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.